Gevalle SAR-soldate se name bekendgemaak

Argieffoto van Suid-Afrikaanse soldate. Foto: GCIS/SAPA

Die 13 Suid-Afrikaanse soldate wat in ‘n skermutseling met rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gesterf het, se name is Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag bekendgemaak.

Korporaals Mokgadi Darius Seakamela en Ntebaleng Andrew Mogorosi, en onderkorporaals Daniel Sello Molara en Lukas Mohapi Tsheke is ook onder die soldate wat Sondag gesterf het.

Die skutters wat gesterf het is soos volg:
– Lesego Maxwell Hertzog,
– Zamani Jim Mxhosana,
– Xolani Dlamini,
– Vusumzi Joseph Ngaleka,
– Karabo Edwin Matsheka,
– Khomotso Paul Msenga,
– Maleisane Samuel Thulo,
– Motsamai William Bojane, en
– Thabiso Anthon Phirimana.

Alle gevalle soldate was lede van Een Valskermbataljon van Bloemfontein.

“Die SANW wil boonop byvoeg dat die soldaat wat tydens die operasie vermis geraak het, veilig opgespoor is. Hy is in ‘n goeie luim,” het die SANW in ‘n verklaring gesê.

“Die minister van verdediging en militêre veterane, hoof van die SANW, hoof van gesamentlike operasies en hoof van die Suid-Afrikaanse Leër betuig meegevoel met die vriende en familielede van die oorledenes.”

Brig.gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die SANW, het glo vroeër gesê die SAR-rebelle het berou oor die aksie wat tot die afsterwe van die 13 soldate gelei het. “Die leiers van die rebellegroep het Sondagoggend na die basis gekom en bespreek wat op die grond gebeur. Hulle het berou oor die voorval,” het Mabanga gesê.

Mabanga sê hulle het nog nie verdere opdragte rakende beweging van die soldate ontvang nie en die huidige sterftesyfer van Saterdag het nog nie verander nie.

Buiten die 13 soldate wat gesterf het, is 27 beseer.

Volgens Mabanga kan hulle nie op spekulatiewe mediaberigte reageer nie. Beeld het Dinsdag berig dat, buiten die amptelike syfer van sterftes en beseerdes, ses spesmag-operateurs ook in die skermutseling gesterf het. Die dagblad berig die SANW het ‘n teiken geword nadat hulle pres. Francois Bozizé glo gehelp het om uit die land na die Demokratiese Republiek van die Kongo te vlug. Die weermag se topstruktuur is glo verlede week al deur senior offisiere in die organisasie gewaarsku dat die sending in die SAR op selfmoord neerkom.

Vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag is Maandagaand glo op bystand geplaas, maar weens finansiële beperkinge was die Gripens nie met wapens met ‘n aanvalskapasiteit bewapen nie. Die soldate het glo op die grondvlak gesukkel weens ‘n tekort aan logistiek en lugondersteuning.

Soldate moes noodsaaklike toerusting by die Franse valskermsoldate bekom en met slegs een dokter, met een rugsak met mediese toerusting teenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trudie ·

Waar is ons weermag wat ons so trots op was? Dit is nou ‘n organisasie wat ons moet verdedig en hulle het nie eers die nodige wapens en aanvalskapasiteit nie. Wat ‘n blerrie skande. En dan het hulle ook nie eers die nodige breins en opleiding om in die weermag te wees nie. Hoe trots was ons seuns nie toe hulle opgeroep was om weermag toe te gaan nie? En wat het dit gehelp. Kyk waar is ons land nou? In sy glorie in.

Delene Pienaar ·

Ek skaam my morsdood vir hierdie patetiese spulletjie!! Dis belaglik verby!! En, dan is daar Suid Afrikaners wat TROTS is op hierdie tragedies en ander soortgelyke “disasters” wat daagliks in hierdie pragtige land afspeel!!

Johan Smit ·

Trudie, Hennie en Delene. Die manne wat gesterf het was immers van ons land se mense en het in ‘n kontak van meer as ‘n dag lank geveg met beperkte ondersteuning. Hulle het in diens van hul land gesterf. daar is ouers, familie en vriende wat twee dae lank al treur oor hul mense wat nie terug gekom het nie. Hierdie is nie ‘n soldate kwessie nie, dis ‘n politieke een en ek sal die soldate wat gesneuwel het met die eerbied en erkenning wat hul verdien onthou!

Monica ·

Johan Smit, ek stem 100 % met jou saam. Ongelukkig is die arme soldate op die grond daar omdat dit ‘n werk is met ‘n salaris om vir sy gesin te voorsien en dit is die spul top ouens wat nie ‘n idee het wat hulle aanjaag nie wat nou hierdie manne hul lewens gekos het! Om te sterf vir jou land bly ‘n eer, ten spyte van die omstandighede. As mens kyk hoe ondersteun die Amerikaners hul troepe – dit is iets wat ons land dringend kort – respek! En dis oor ons armsalige Afrikaners dat ons land nooit weer sal regkom nie – ons kan oor niks saamstaan of saamstem nie! Dit is nou iets om oor skaam te wees!!

HELENA SEABORNE ·

weet nog steeds nie wat hulle daar gesuk het ni. genade ons eie land kan hulle beter gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.