Gevangene dagvaar ná hy glo Vigs in tronk kry

Argieffoto

ʼn Voormalige gevangene wat beweer hy het MIV opgedoen nadat hy die eerste aand agter tralies deur twee mans verkrag is, dagvaar die departement van korrektiewe dienste vir R1.7 miljoen.

Die 41-jarige man van die Wes-Kaap beweer hy is “aspris” in ʼn tronksel geplaas saam met mans wat lede is van die 28s-bende, het die Cape Times Vrydag berig. Die tronkbewaarder aan diens het glo die voorval aangehits en vir die gevangenes gesê: “Hier is die gemors”, toe hy in die sel geplaas is.

Hy beweer hy is dieselfde aand deur twee bendelede verkrag waartydens hy MIV opgedoen het. Die voorval het glo op 13 Oktober 1999 in die Allendale-gevangenis in die Paarl plaasgevind.

Die voormalige gevangene is in 2001 skuldig bevind op ʼn aanklag van moord en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is in Maart 2002 na die Malmesbury-gevangenis verplaas waar hy agtergekom het hy het Vigs. Hy is op 6 Oktober 2009 op parool vrygelaat.

Die departement se regspan het die beweringe in die Wes-Kaapse hooggeregshof ontken. Hulle sê gevangenes, wat nie deel is van enige bende nie, word nie in dieselfde selle aangehou waar bendelede aangehou word nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.