Gevangene ontsnap buite tandarts

‘n Gevangene van Modderbee-tronk het Dinsdagoggend korrektiewe dienste se toesig ontsnap tydens sy besoek aan ‘n tandarts in Vyfde Straat, Springs.

Dit was die 57-jarige gevangene se sesde besoek aan die praktyk binne twee maande, het personeel by dr. H Hartley se praktyk gesê. LookLocal Springs berig dat hy tandheelkundige werk benodig het wat hulle nie in die tronk aan hom kon verskaf nie. “Hy was altyd deur drie beamptes vergesel en sy hande en voete was altyd vasgebind,” het een van die personeellede gesê. Die gevangene het omstreeks 10:30 na die tronkbussie teruggekeer.

Drie gewapende mans het glo uit ‘n swart voertuig gespring wat naby die praktyk parkeer gestaan het. Hulle het die beamptes van hul vuurwapens gestroop en hulle toe in die bussie toegesluit. Die gevangene is toe in hul eie voertuig ingestop en hulle het met hom weggejaag.

Geen skote is gevuur nie en geen beserings is aangemeld nie.

Kaptein Johannes Ramphora, woordvoerder van die polisie sê die verdagtes se motief is onbekend. “Ons is nie tans seker of dit ‘n ontvoering was en of die mans deel was van ‘n poging om die man uit die tronk te laat ontsnap nie,” het hy gesê.

Die gevangene, oorspronklik van Kempton Park, is verhoorafwagtend op ‘n aanklag van motordiefstal.

Die polisie sal die voorval verder ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.