Gevangenes se behandeling “skokkend en kommerwekkend”

Die foto is deur die gebruiker @ShahanR op Twitter gelaai.

Die Prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA) het Vrydag die voorval waar drie gevangenes, wat vroeër die week uit die Pretoria Sentraal gevangenis probeer ontsnap het en toe voor die media geparadeer is, as skokkend en kommerwekkend beskryf.

Die vermeende bankrower, Bongani Moyo, en sy twee medebeskuldigdes, Khumbulani Sibanda en Themba Dube, is Woensdagmiddag bebloed, gekneus en mank voor die media geparadeer kort nadat hulle amper uit die Pretoria Sentraal gevangenis ontsnap het. Die LSSA sê die feit dat die gevangenes na die mediakonferensie gebring is, het hulle basiese menseregte geskend. Die voorval kan verkeerd verstaan word deur die publiek en ‘n kultuur van reg in eie hande neem aanmoedig, het die LSSA gesê. “Die publiek kan gelei word om te glo dat oortreders, die wat verhoorafwagtend of skuldig bevind is, nie geregtig is op basiese regte, insluitend die reg op menswaardigheid nie.” LSSA se mede-voorsitters, Nano Matlala en Praveen Sham, het in ‘n verklaring gesê volgens hoofstuk drie van die Wet op Korrektiewe Dienste (1998) moet gevangenes aangehou word onder toestande waar hulle menswaardigheid gerespekteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.