Die polisie is op soek na drie gewapende rowers wat Dinsdagaand glo ʼn huiseienaar en sy vriende in ‘n huis naby Laerskool Uitsig in The Reeds-omgewing, Centurion, vir etlike ure aangehou en beroof het.
Lede van die Wierdabrug-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Woensdag bevestig dat ʼn gewapende roof Dinsdagaand in die gebied plaasgevind het. Die eienaar van die huis en sy vriende is glo van omstreeks 23:00 tot 05:00 Woensdagoggend aangehou. Volgens die GPF het die rowers te voet gevlug met twee vuurwapens, ses selfone en drie skootrekenaars. Volgens die slagoffers het twee van die rowers blou oorpakke aangehad en die ander persoon het ʼn donkerblou denim met ʼn grys T-hemp aangehad.
Dit is nog nie bekend of iemand tydens die voorval beseer is nie. Daar bestaan ʼn moontlikheid dat die rowers verbind kan word aan ʼn soortgelyke voorval wat verlede week in dieselfde straat plaasgevind het.
Maroela Media wag nog vir kommentaar van die Wierdabrug-polisiestasie vir meer inligting.