Geweld by myn eis reeds nege

Minstens nege mense is reeds dood in geweld by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg.

Kapt. Dennis Adriao, ʼn polisiewoordvoerder, sê twee polisiebeamptes, twee veiligheidswagte, drie betogers en twee ander mans is reeds teen 20:30 gisteraand in die geweld dood. Adriao sê die twee polisiebeamptes is gistermiddag doodgemaak terwyl nog ʼn polisiebeampte ernstig beseer is. Hulle is glo met panga’s doodgekap. Die liggaam van ʼn man is ook gister naby die myn se perseel gevind. Hy is verskeie kere geskiet. Een van die oorledenes is Sondag in die hospitaal dood nadat hy vroeër met ʼn panga aangeval is nadat hy die myn wou verlaat na die aandskof. Twee veiligheidswagte is Saterdag dood nadat die motor waarin hulle gery het aan die brand gesteek is.

Vrydag het sowat 3 000 van die Lonmin se rotsbooroperateurs met ’n onbeskermde staking begin wat gewelddadig geraak het en oor die naweek voortgeduur het. Die geweld word toegeskryf aan ʼn twis tussen die National Union of Mineworkers (NUM) en die nuwe vakbond AMCU. Die vakbond Solidariteit het intussen ’n beroep op die polisie en werkgewer gedoen om ernstig op te tree ten einde te verseker dat die geweld stopgesit word. Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is drie lede van die vakbond beseer toe hulle Sondagaand buite die myn se perseel aangerand is voordat hulle vir werk kon aanmeld. “Een van ons lede het steekwonde opgedoen en ’n ander het brandwonde opgedoen. Die derde lid het ’n gebreekte kakebeen.” Du Plessis sê Solidariteit het in ’n skrywe aan Lonmin geëis dat die werkgewer die vakbond se lede se veiligheid verseker wanneer hulle vir diens aanmeld. “Indien die werkgewer nie die versoek nakom nie, sal Solidariteit sy lede om veiligheidsredes van die werkplek onttrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.