Gewese Somalië-gyselaar se dwelmklagtes geskrap

Die hof het Vrydag die aanklagte van die besit van dwelms en dwelmhandel teen Debbie Calitz, wat onlangs ná bykans twee jaar in aanhouding deur Somaliese seerowers vrygelaat is, van die rol geskrap.

Landdros Kenneth Chauke het in die Hatlfield-distrikshof die aanklag van die rol geskrap omdat die polisie nie hul ondersoekwerk betyds kon afhandel nie.

Maroela Media het vroeër berig Calitz het saam agt ander mense, insluitend haar kinders Kerri-Ann en Jason Cross, tereggestaan op aanklagte van die besit van dwelms en dwelmhandel. Die ander beskuldigdes is Matthew Beukes, Jarryd Lottering, Timothy Lombard, Nicolas Fourie, Zane Coles en Donavan Coles. Al nege is in Desember op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die aanklagte teen die ander is ook teruggetrek.

Hulle is in hegtenis geneem nadat die polisie vroeër in Desember ʼn klopjag op Calitz se huis in Constantiapark, in die ooste van Pretoria, uitgevoer het.

Calitz het na die uitspraak gesê sy is baie gelukkig en haar lewe kan nou weer aangaan. “Ek weet ek was in besit van daggablare, waarmee ek net vir myself tee gemaak het om my te kalmeer, maar ek het nie met dwelms handel gedryf nie,” het Calitz gesê.

Calitz en haar voormalige vriend Bruno Pelizzari is op 26 Oktober 2010 deur seerowers ontvoer terwyl hulle aan die kus van Tanzanië met hul seiljag gevaar het. Hulle is in Junie verlede jaar vrygelaat ná ‘n gesamentlike operasie deur Suid-Afrika, Somalië en Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.