Gewonde pa skiet ‘rower’ dood

Konst. Deon Jardim, ʼn 31-jarige polisiebeampte van Polokwane, is voor sy kinders in die bors geskiet, maar kon steeds daarin slaag om een van sy drie aanvallers dood te skiet.

Jardim het Maandagoggend gereed gemaak om sy twee dogtertjies na hul kleuterskool te neem toe hy glo deur drie mans in sy huis se oprit oorval is, het Beeld Woensdag berig. Een van die mans was met ʼn geweer gewapen en die ander twee het messe gehad.

“Die man met die geweer het dit op my gerig en gesê ‘shhh, shhh’,” het Jardim aan Beeld gesê.

Jardim is ʼn speurder by die Seshego-polisiestasie en het nie tydens die aanval sy polisie-uniform aangehad nie.

“Ek het na die kant toe gedraai sodat hulle nie kon sien ek het my pistool aan my sy nie,” het hy gesê.

Die gewapende rower het egter wel die vuurwapen gesien en Jardim in sy bors geskiet. “Ons was sowat twee meter van mekaar af. Ek het my vuurwapen uitgeruk en terug geskiet. Ek het ses skote gevuur en vyf het hom getref,” het Jardim bygevoeg.

Kapt. Ntobeng Phala, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Beeld gesê die ander twee verdagtes het weggehardloop. Die gewonde verdagte is na ʼn hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

ʼn Buurman het Jardim na die Limpopo Medi-Clinic gehaas, waar dokters hom gestabiliseer het. Volgens die dokters het die koeël sy hart naelskraap met 2cm gemis.

Kol. Ronel Otto sê ʼn saak van moord word onder meer ondersoek. “Dit is standaard prosedure. Die ondersoek sal bepaal of daar enige vervolging gaan plaasvind,” het sy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.