Gholfballe teister 80-jarige

Argieffoto

Albert Dobie (80), ‘n pensioenaris wat langs ‘n gholfbaan in KwaZulu-Natal bly, gaan nou regstappe doen omdat sy huis glo gereeld deur gholfballe getref word.

Dobie het aan die Sunday Times gesê hy moes nou al vir drie jaar lank sy huis se dak, vensters en glasskuifdeur beskerm teen gholfballe wat sy R3 miljoen-huis in Ballito Gardens tref. Sy huis grens teen die Umhlali Country Club aan die KwaZulu-Natalse noordkus. “Dit voel gereeld of dit gholfballe reën, veral oor naweke,” het Dobie gesê.

Dobie sê hy moet ‘n konstruksiehoed dra wanneer hy in die tuin werk, en gaste by sy swembad is ook al deur die gholfballe getref. “Ons is te bang om ons eie tuin te gebruik. Vriende en familie is te bang om by ons te kom kuier. Ons kan nie mense vir buitemuurse aktiwiteite of funksies nooi nie.”

Hy sê sy 14-jarige kleindogter het al R7 000 ingepalm deur gholfballe in die tuin op te tel en hulle aan gholfspelers vir R3 elk te verkwansel. Dobie wend hom nou na die reg in ‘n poging om die afslaanbowwe te skuif.

John Boyce, bestuurder van die klub, het aan die Sunday Times gesê die gholfklub en die huiseienaarsvereniging het al talle pogings aangewend om Dobie se besware aan te spreek. “Hy is tot dusver nog nie tevrede nie,” het Boyce gesê.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.