Giftige sampioene eis 5

Vyf gesinslede van Durban is dood nadat hulle glo giftige sampioene geëet het. ʼn 17 maandeoue babatjie was een van die slagoffers.

Die Sowetan het Dinsdag berig Bheki Mkhize (29) van Dassenhoek, wes van Durban in KwaZulu-Natal, het verlede week die sampioene gekoop en vir sy vriendin gegee om gaar te maak. Mkhize se gesin het begin siek word nadat hulle die sampioene geëet het. Na wat verneem word, het hulle ook gebraak, diarree gekry, hallusineer en nie energie gehad nie. Mkhize se vriendin, slegs bekend as Xoli, is die eerste een wat siek geword het. Sy is Woensdag in die RK Khan-hospitaal dood. Mkhize se suster, Nombulelo (22), is na die Marianhill-hospitaal gehaas, maar is later ontslaan nadat sy mediese behandeling gekry het.

Mkhize se 17 maandeoue kind, Emenhle, is Donderdag in die KwaDabeka-kliniek dood. Sy ander suster, Nozipho (24), is Vrydag in die Marianhill-hospitaal dood. Sy laat ʼn 8 maandeoue baba agter.

Nombulelo is Saterdag terug hospitaal toe waar sy ook later dood is. Mkhize is Sondag in die RK Khan-hospitaal dood.

Dit is nie bekend waar Mkhize die sampioene gekoop het nie. Chris Maxon, woordvoerder van die provinsie se gesondheidsdepartement, sê nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die oorsake van hul dood te bepaal.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.