Gimmies in Potch wéér topklas

Willie van der Merwe, hoof van Potchefstroom Gimnasium, saam met Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. (Foto: Verskaf)

Potchefstroom Gimnasium in Noordwes is die afgelope naweek wéér deur die departement van basiese onderwys vir sy uitnemendheid op akademiese vlak vereer.

Dit is die vierde keer sedert 2017 dat dié skool met die nasionale onderwystoekenning vir die beste kwintiel-4-skool in die land bekroon word.

Volgens skoolhoof Willie van der Merwe is dié eerbewys voorwaar iets om op trots te wees. Hy voeg by dat dit wel belangrik is om nederig te bly en nie die beloning as vanselfsprekend te aanvaar nie.

“ʼn Mens werk nie hard sodat jy erkenning kan ontvang nie, maar dit is tog lekker dat harde werk beloon word.

“Gimmies het voorwaar gedrewe personeel en kinders, en ʼn skoolgemeenskap wat nie huiwer om ʼn hand by te sit nie. Hierdie toekenning is te danke aan ʼn hele span se toewyding en strewe na uitnemendheid.”

Op die vraag wat hom as skoolhoof motiveer om die skool in ʼn bepaalde rigting te lei, sê Van der Merwe dat hy deur sy passie vir onderwys gedryf word.

“Dit is ʼn passie wat van die Here af kom. As ek elke oggend kan opstaan en my dagtaak vir die Here kan doen, dan ervaar ek vervulling.

“Daaruit vloei die behoefte om net die beste ondersteuning en uitkoms vir ons leerders en die personeel te wil hê. Dit gaan gepaard met die strewe om in alle opsigte uitnemende werk te verrig.

Van der Merwe voeg by dat hy ʼn waardering koester vir die onderwysdepartement se holistiese benadering tot die beoordeling van skole se akademiese prestasie.

“Ek is ingenome met die nasionale departement se besluit om op ʼn gebalanseerde wyse na sulke prestasies te kyk. Dit gaan nie net oor hoë slaagsyfers nie, maar ook oor ander aspekte soos die akademiese gemiddeld en vakspesifieke prestasie.”

Die departement van basiese onderwys erken en vereer met hierdie toekennings jaarliks die beste onderwysers in die land. Die doel is onder meer ook om uitsonderlike onderwysers te vier wat dikwels onder moeilike omstandighede toegewyd bly aan hulle rol om toekomstige leiers te kweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

HUH? Nou hoe bou anti Angie? Dog dan jy wil al wat goed is agv effektiewe bestuur verwoes met BELA?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.