Glo geen goedgekeurde bouplanne vir Tongaat-winkelsentrum

Foto: @crisismedDbn op Twitter

Foto: @crisismedDbn op Twitter

Daar was glo geen goedgekeurde bouplanne vir die winkelsentrum in Tongaat, KwaZulu-Natal, wat Dinsdag ineengestort het nie.

“Die winkelsentrum se eienaars en die kontrakteurs het nie goedgekeurde bouplanne gehad nie,” het James Nxumalo, burgemeester van eThekwini, gesê. “Nie die huidige eienaars of enigiemand wat namens hulle optree, het al ʼn aansoek by die stad vir goedkeuring van die bouplanne ingedien nie.”

Nxumalo sê die enigste aansoek wat vir die perseel ontvang is, was vir grondverskuiwingswerk, nie vir geboue nie. Dié aansoeke is in Mei afgekeur. Toe die munisipaliteit ontdek dat daar konstruksie op die perseel plaasvind, is inspekteurs ontbied en die saak is na die hof.

Die Durbanse hooggeregshof het op 14 November ʼn hofbevel toegestaan wat die eiendom se eienaars, Rectangular Property Investments, dwing om alle bouwerk op te skort.

ʼn Gedeelte van die winkelsentrum, wat nog in aanbou was, het Dinsdag ineengestort. ʼn Vrou is dood en 29 mense is beseer.

Sibusiso Sithole, munisipale bestuurder van eThekwini, het ontken dat die munisipaliteit sy voete gesleep het in pogings om die bouwerk te staak.

Nxumalo sê die perseel kon nie vir 24 uur lank elke dag deur polisiebeamptes dopgehou word nie. “Die maatskappy het nie voorkeurbehandeling gekry nie.”

Die stad sal sy regsgeding voortsit om ʼn hofbevel te bekom om alle bouwerk by die perseel te staak. Die betrokke partye sal ook vervolg word en hulle sal aangekla word indien hulle ʼn misdryf gepleeg het.

Intussen is die reddingspoging by die konstruksiewerf tydelik opgeskort. “Die toneel is aan die departement van arbeid oorhandig, en hulle sal nou van die beton begin verwyder,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. “Reddingswerkers sal op bystand wees.”

Sandile Khubeka, adjunk direkteur van beroepsveiligheid by die departement, het gesê beamptes het Dinsdag by die toneel opgedaag. Hulle sal saam met stadsingenieurs die struktuur ondersoek en getuies ondervra.

Khubeka sê hy kan nie tans meer inligting bekend maak nie, aangesien die ondersoek nog aan die gang is.

Lees ook:
Ondersoek ná winkelsentrum ineenstort
Minstens een dood, talle beseer na winkelsentrum ineenstort
Foto’s: 50 werkers moontlik in winkelsentrum vasgekeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alta Mouton ·

Dit noem ek nou ‘n Munisipaliteit wat vas aan die slaap is. Hoe kry kontrakteurs dit reg om so ‘n gebou op te rig sonder goedgekeurde bouplanne. Patete

JB ·

Sibusiso Sithole “ontken dat munisipaliteit sy voete gesleep het” – Hie-hie. Sekerlik vir familie n guns gedoen!!

Eben ·

Sibusiso Sithole hoe kan jy so lieg …. van Mei maand af snoer alles … het niemand gesien daar word gebou? Komaan ou dikkes …. vertel ons wie het waar ietsie gescore met die deal! Persoonlik dink ek daar moet ondersoek ingestel word. Hoop die beseerdes eis miljoene dan sal iemand seker begin verduidelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.