Glo minder as R200 e-tol per maand vir meeste

Negentig persent van motoriste wat van paaie in Gauteng gebruik maak, sal minder as R200 ‘n maand aan e-tol spandeer, het Sanral Vrydag gesê.

“Dit sal aansienlik minder kos as wat algemeen aanvaar word om op Gauteng se paaie te ry sodra e-tol in werking gestel is,” het Vusi Mona, woordvoerder vir die Nasionale Padagentskap (Sanral) gesê. “Ons weet dit, want ons het werklike gebruik van 2.5 miljoen voertuie op Gauteng se e-paaie gemonitor.”

“Minder as 1% van padgebruikers sal die maksimum van R550 per maand moet betaal,” het Mona bygevoeg, “maar hiervoor sal hulle ‘n e-tolskyfie benodig.” Volgens Mona het daar tot dusver 600 000 registrasies vir e-tolskyfies plaasgevind. Sanral het Donderdag aangekondig dat die e-tolprojek oor twee maande ‘n aanvang sal neem. “Sodra die betrokke wetgewing, die Wysigingswet op Vervoer en Verwante Sake, goedgekeur is, sal minister Ben Martins amptelik die tariewe bekendmaak. Daarna sal ‘n kennisgewingperiode volg. Dit behoort ongeveer twee maande lank te duur.” Dié wetgewing maak e-tol vir die Gautengse Hoofwegverbeteringsprojek geldig en is in die Nasionale Vergadering goedgekeur.

Die laer koste is ‘n gevolg van die langer tydperk wat aan die departement gegun is om die lening van R5.7 miljard aan die Nasionale Tesourie terug te betaal. “Die tariewe is merkbaar verlaag. Die aanvanklike voorstel vir ligtemotor-voertuie, wat met ‘n e-tolskyfie toegerus is, was 50c/km, maar dit is nou slegs 30c/km – ‘n daling van 40%,” het Mona gesê. “Vragmotors en swaar voertuie sal slegs R1.50/km betaal, in plaas van die oorspronklike aanbeveling van R2.97. Motorfietse met e-tolskyfies sal 18c/km betaal.”

AfriForum het vroeër aangedui dat sy personeellede nie vir e-tol gaan registreer nie, en doen ‘n beroep op Gauteng-inwoners om ook nie te registreer nie. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joey Odendaal ·

Ag ja, dit begin so en waar gaan dit eindig???? Dit moet GLADNIE gebeur nie – WAT doen hulle met die HUIDIGE tolgelde wat gevorder word? Werk self uit hoeveel miljoene word TANS op ons paaie gevorder per jaar ….. jy sal na jou asem snak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.