Glynnis Breytenbach onskuldig

Advokaat Glynnis Breytenbach tydens haar vorige verhoor in Februarie. Foto: Werner Beukes/Sapa

Advokaat Glynnis Breytenbach is Maandag tydens haar tugverhoor in Pretoria onskuldig bevind op al 15 klagtes wat verband hou met haar hantering van ‘n omstrede mynregte-dispuut.

Breytenbach is in April 2012 geskors vir haar hantering van die mynregte-dispuut tussen Imperial Crown Trading (ICT) en Sishen/Kumba.

Breytenbach is sedert verlede jaar met betaling deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskors. Sy het beweer dat haar weiering om ‘n bedrog- en korrupsiesaak teen lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, te laat vaar, met haar skorsing verband gehou het.

Die NVG het aangevoer dat Breytenbach geskors is nadat sy glo haar magte in die Kumba-saak misbruik het.

Selby Mbenenge SC, voorsitter van die tugverhoor, het haar Maandag onder andere onskuldig bevind op beweringe dat adv. Mike Hellens, Kumba se regsverteenwoordiger, haar beïnvloed het. Mbenenge het bevind dat daar geen bewyse was wat teenstrydig was met Breytenbach se argument dat sy altyd in beheer van die saak was nie, en dat sy ten spyte van haar vriendskapsbande met Hellens, objektief opgetree het.

Breytenbach het na die uitspraak haar prokureur, Gerhard Wagenaar, omhels. Hy het daarna ʼn verklaring van Breytenbach voorgelees, waarin sy almal bedank het wat haar tydens die saak bygestaan en ondersteun het.

“Ek is verlig dat die voorsitter die gebrek aan regverdiging in die aanklagte teen my gesien het,” het sy gesê.

Sy sê sy sal so gou as moontlik terugkeer werk toe as sy toegelaat word.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.