‘God het boervrou van verkragting beskerm’

Güdryn Schoeman (67) van die plaas Vygeboom naby Badplaas, Mpumalanga het Maandag in die hof getuig dat God haar beskerm het toe haar man se vermeende moordenaars haar wou verkrag het.

Thomas Nyathi en Aaron Nkosi word daarvan beskuldig dat hulle Johannes Hendrik Schoeman (86) op 17 Desember 2010 vermoor het. Hulle word ook van ontvoering en roof met verswarende omstandighede aangekla. Güdryn het getuig dat sy die aand van die aanval omstreeks 21:00 kamer toe is. Sy het in die kamer op die tweede verdieping van die huis geslaap terwyl haar man in die kamer op die grondvloer geslaap het. Güdryn sê sy het wakker geword toe sy geruik het iets brand. Sy het verby haar man se kamer geloop en hom hoor snork. “Ek het na die kombuis geloop en gesien daar is niks fout nie. Toe ek teruggeloop het na my kamer toe het ek gesien twee mans val my man in sy kamer aan.” Een van die aanvallers het haar mond met sy hand toegedruk toe sy probeer skree het. Haar man was bewusteloos maar het steeds geleef. “Die aanvallers het geld en wapens geëis. Ek het vir hulle gesê ons het nie geld of wapens nie. Hulle het my aanhoudend met die vuis geslaan en een het ʼn geroeste mes teen my keel gehou. Een van hulle het my onderklere afgetrek om my te verkrag. Ek het na die Here geroep en Hom gevra dat hulle my nie verkrag nie. Hulle het albei aan my lyf gevat maar die Here het my van die verskriklike beproewing gered. Hulle het my nie verkrag nie.”

Güdryn sê die rowers het haar bankkaart geëis en gevra hoeveel hulle kan onttrek. Nadat sy gesê het hulle kan slegs R2 000 onttrek, het die twee mans haar man se sweetpakbaadjie gevat en hom daarmee verwurg. “Hulle het getrek….en ek het gekyk hoe sy bene op en af skop. Ek het besef hy is besig om dood te gaan,” het Schoeman getuig voor sy in trane uitgebars het. Sy sê die mans het haar later op die agterste sitplek van haar man se motor gesit en weggery. “Hulle wou my in die kattebak sit maar ek het geweier. Ek het saam met Nkosi op die agterste sitplek gesit en Nyathi het bestuur. Hy het soos ʼn maniak gery en toe ons die T-aansluiting by Machadodorp bereik het, het ek uit die motor gespring en my enkel beseer.” Sy sê twee vragmotors het verbygery terwyl sy in die pad gestaan het. Die twee mans het teruggekom en haar by ʼn wal afgegooi voor hulle haar teruggesleep het na die motor toe. Hulle het na Belfast gery waar hulle by ʼn OTM gestop het en vir haar pinnommer gevra het. Güdryn sê sy was nie seker of hulle die geld gekry het nie maar hulle het teruggekeer na die motor en na Carolina begin ry. “Ek het begin om vir Jesus te sing. Ek het vir Nkosi gesê om tot bekering te kom. Hy het my gevra hoekom Jesus toegelaat het dat beide sy ouers gesterf het. Toe ek die ligte van Carolina gesien het, het ek vir die Here gebid en gesê net ʼn ongeluk kan my nou red. Skielik het ek gehoor die voorste band is op die grondpad waarna die motor omgeslaan en gerol het.” Güdryn het uit die motor geklim en daar was twee polisiebeamptes wat haar na die hospitaal geneem het. Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

Ek kan my nie naastenby in dink hoe die dame moes voel tydens die aanranding nie. God dank sy leef !

Ek glo dat die Here my sal vergewe as ek sê dat hierdie nasie NIE my naaste is nie, kan nooit wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.