‘God se genade is vir jou genoeg’

Charmé Kriel en haar twee kinders, Dian en Lisa (Foto: Facebook)

Charmé Kriel, ʼn Afrikaansonderwyseres by die Hoërskool Vishoek en ʼn ma van twee, se lewe het handomkeer verander nadat preëklampsie op 27 weke van swangerskap by haar gediagnoseer is. Baba Lisa is tydens ʼn noodkeisersnee prematuur gebore en het maar 850 gram geweeg.

Charmé het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media gesels oor dié gebeurtenis wat haar en haar man se lewens onherroeplik verander het. Sy vertel meer oor haar boek Twee kinders later, hoe dit haar verhouding met God beïnvloed het en waarom die boek soveel vreugde verskaf.

“As ek nou daaraan terugdink was dit ʼn tyd van absolute chaos,” onthou sy. “Ek wou natuurlik geboorte skenk sonder enige pyn medikasie.” Maar God het ʼn ander plan gehad.

Toe Charmé op 27 weke dié ontstellende nuus ontvang het, was sy geensins voorbereid op die koms van hul eersteling nie. Preëklampsie is ’n algemene komplikasie van swangerskap wat met hoë bloeddruk verband hou. Dit kan lewensgevaarlike gevolge vir die ma en baba inhou.

“Ons het daardie dag gehoor dat ek nie weer huis toe gaan nie en onmiddellik opgeneem word. Ek het vir die dokter gelag en gevra ‘Wat bedoel jy?’.”

Sy onthou dat dinge besonder vinnig gebeur het en dat daar skaars tyd was om die babakamer in te rig of genoeg oor premature geboortes op te lees. Vir Charmé was dit ʼn geweldige uitdaging.

“Met dié geboortes ruk God so effens die mat onder jou voete uit en dan het jy geen ander keuse as om op Hom te vertrou nie. Vir iemand soos ek wat daarvan hou om in beheer te wees, was dit ongelooflik moeilik,” sê Charmé.

Haar verhouding met God het wipplank gery, vertel sy. “Soms was ek ʼn bietjie kwaad en ander kere het ek God se plan bevraagteken.” Maar sy het nooit haar rug heeltemal op Hom gedraai nie. Charmé sê dié gebeurtenis het trouens haar verhouding met God sterker gemaak.

Charmé vertel dat sy nog altyd lief was vir skryf. Buiten dat sy haar storie met ander mense wou deel, het sy dit ook as terapie beskou.

Sy het in die hospitaal begin om elke dag se gebeure en emosies vir haarself neer te pen. ʼn Vriendin wat gehoor het dat sy hieroor skryf, het voorgestel dat Charmé ʼn blog begin om dit met ander mense ook te deel. Charmé het natuurlik eers ondersoek ingestel en daaroor gedink voor sy haar blog “Lisa 28-week-liefie” begin het.

“Dit het net te veel geword om elke dag vir almal die dagboekinskrywing te e-pos en daarom het ek die platform begin waarop almal my reis kon volg,” sê Charmé.

Toe sy swanger word met haar tweede kind wou sy nie meer net oor premature geboortes skryf nie. Haar fokus het effens verskuif om ruimte te maak vir onderwerpe soos die chaos daarvan om ʼn werkende ma te wees, tantrums en alledaagse goed wat ma’s hanteer. Sy het ook besef dat die blog nie meer net Lisa se storie is nie en daarom moes die naam verander. “Ek het verskeie name oorweeg en uiteindelik op ‘Twee kinders later’ besluit,” sê sy.

Charmé beskou haarself allermins as ʼn skrywer en sy het nooit gedink dat haar ervaring in ʼn boek vasgelê sou word nie, maar sy put eindelose genot uit die positiewe impak wat haar storie op ander mense het.

“Dit is my gunstelingdeel van die boek [om van lesers te hoor],” vertel sy opgewonde.

In Twee kinders later vertel Charmé haar storie met humor en deernis: ’n Universele storie van oorlewing vir elke moderne ma. Haar boodskap aan lesers is dat jy nooit die pad alleen stap nie, want God is by jou.

“Jy kan nie die pad alleen stap en alles alleen doen nie. Ons vergelyk onsself met die mense om ons, maar God het ʼn unieke plan met elkeen. Sy genade is vir jou genoeg.”

Twee kinders later het in 2019 by Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers verskyn. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

  • Charmé Kriel is met preëklampsie gediagnoseer toe sy 27 weke swanger was. Haar eersteling Lisa is tydens ʼn noodkeisersnee prematuur gebore en dit het Charmé se lewe handomkeer verander. Luister hierbo na die volledige onderhoud oor haar boek Twee kinders later.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Byekonfyt

Die Here is Amazing.

PETRO

Baie braaf van haar om sulke diep persoonlike dinge openbaar te maak vir almal om te lees, ek haal my hoed af vir haar, dit vat beslis guts en vertroue op n Krag soveel groter as wat mens besef