‘God wou Lotter-egpaar dood hê’

Johnny en Riekie Lotter.

Die Durbanse hooggeregshof het Maandag gehoor dat terwyl Nicolette Lotter haar ma met ʼn mes doodgesteek het, het sy aan haar gesê dit is God se wil.

“Dit is wat God wil hê,” het Lotter aan haar 53-jarige ma, Riekie Lotter, gesê. ʼn Emosionele Lotter (29) sê indien sy nie geglo het dit is wat God wou hê nie, sou sy dit nooit gedoen het nie. Sy sê haar gewese kêrel, Mathew Naidoo (25), het beweer dat hy die derde seun van God is, en dat God wou gehad het haar ouers moet sterf aangesien hulle gesondig het. Naidoo is die beweerde meesterbrein agter die moord op Riekie en haar man Johhny Lotter (53). “As Mathew nie oor God gelieg het nie, sou dit nooit gebeur het nie,” het Lotter getuig terwyl sy die trane teruggeveg het. Naidoo, Lotter en haar broer Hardus (23) word aangekla van die moord op die Lotter-egpaar in hulle huis in Durban in Julie 2008. Lotter sê sy en haar broer sou niks geërf het van hulle ouers nie. “Dit sou alles na Mathew toe gegaan het.” Sy beweer Naidoo se ma, Rita, is ook by die moord betrek aangesien sy glo finansieel voordeel daaruit sou trek. Lotter beweer dat Naidoo se ma in ʼn verklaring aan die polisie gesê het dat sy (Lotter) by haar gekla het dat sy haar ouers wil vermoor. Sy sê indien dit waar is kon Naidoo se ma dus die moorde voorkom het deur die polisie en haar ouers te waarsku.

Lotter sê Naidoo het die dag voor die moord aan hulle gesê dat hulle ouers tot die dood veroordeel is vir hulle sondes. Die boodskap het van drie “wesens” gekom, insluitend die engel van geregtigheid. Naidoo het glo aan haar en haar broer gesê om met ʼn plan vorendag te kom om hulle ouers te vermoor en het hulle glo deur die gesig geslaan toe hulle nie kom nie. Naidoo het toe glo aan hulle gesê dat hulle ouers met ʼn skokstok aangeval moet word waarna lug in hulle are ingespuit moet word ten einde ʼn hartaanval te weeg te bring. Op ʼn vraag aan Lotter oor hoe sy hieroor gevoel het, het sy gesê sy kon nie God teenstaan nie maar dat sy verlig was dat haar ouers nie pyn sou ervaar nie. Lotter beweer sy het haar ma na die kombuis gelok en het sy en haar broer begin om haar aan te rand nadat die skokstok haar nie flou laat word het nie. Lotter het probeer om haar ma in te spuit maar kon nie ʼn aar kry nie. “Ons het nie geweet hoe om iemand dood te maak nie.” Lotter het hierna vir Naidoo by die Pavillion-winkelsentrum gaan oplaai. Sy sê haar ma was steeds lewendig en haar broer het haar teen die grond vasgedruk. Naidoo het glo met sy aankoms vir haar gesê om haar met ʼn mes te steek. Toe sy vir Naidoo gesê het sy het dit gedoen, het hy glo verskeie kere vir haar gesê om terug te gaan en seker te maak haar ma is dood. “Ek moes teruggaan en my ma weer met die mes steek. Ek weet nie hoeveel keer nie.” Toe Naidoo eindelik seker was sy is dood het hy glo gesê: “Vaarwel teef.” Naidoo het glo oor haar liggaam gestaan en gesê sy was vol haat en dat sy verdien het om te sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.