Goeie nuus: Jong SA-ner wen jeugafdeling in gesogte foto-kompetisie

Bernard Pieterse se wenfoto

Die jong Suid-Afrikaner Bernard Pieterse is Dinsdag as die eerste wenner ooit van die Omgewingskategorie in die jeug-afdeling van die vername 2012 Sony Wêreld Fotografietoekennings aangewys, het SA Good News berig.

Die Sony Wêreld Fotografietoekennings, wat as die wêreldwye fotografiese geleentheid van die jaar beskou word, vier die beste in fotografie regoor die wêreld. Die jeugafdeling is vir die eerste keer dié jaar ingesluit en Pieterse, tesam met twee ander wenners in die jeug-afdeling is saam met 10 wenners in die oop-afdeling gekroon. Pieterse is tans in graad 11 by Noordheuwel Hoërskool en is 17 jaar oud. Hy is in Krugersdorp gebore en het reeds van ʼn jong ouderdom begin foto’s neem. “Ek het my basiese fotografie-kursus in 2010 voltooi en het onlangs die Visuele Vaardighede skool se toekenning vir “Opkomende fotograaf van die jaar” gewen.”

Pieterse se wenfoto is in Oktober 2011 naby die Sossusvlei-gebied in die Namibiese woestyn geneem. Dit is omstreeks 14:00 die middag geneem. Jy kan slegs met ʼn 4×4-voertuig by die Sossusvlei-gebied uitkom en dan moet jy ongeveer 2 km deur dik sand stap om by die plek uit te kom waar die foto geneem is.

Die algehele Ope- en Jeugafdeling-wenners sal tydens die jaarlikse Sony Wêreldfotografie-toekenningseremonie en gala-ete aangekondig word. Dié gesogte geleentheid vind op 26 April by die Hilton Hotel in Londen se Park Lane plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.