Goeie nuus: Kleinseun red oupa se lewe

Walter Small en sy kleinseun, Bradley Reid

‘n 6-jarige seuntjie van Kanada het sy oupa se lewe gered nadat die twee in Juniemaand in ‘n ongeluk betrokke was en die bejaarde ernstig beseer is.

Walter Small (59) en sy kleinseun, Bradley Reid, het in ‘n houthuis in ‘n afgeleë gebied in Newfoundland, Kanada gebly toe Bradley sy oupa gevra het om bietjie met hul vierwielmotorfiets te gaan ry, berig Huffington Post.

Die motorfiets het egter gerol en Small se been was onder die voertuig vasgeknyp. Bradley, wat ongedeerd daarvan afgekom het, het probeer om die voertuig op te lig, maar kon dit nie regkry nie.

Die twee was ongeveer 24 uur in die woud vasgeval. “Dit was skrikwekkend. Ons was daar, myle van my houthuis en dit sou baie lank wees voordat iemand ons sou kom soek,” het Small gesê. “Ons het nie water of kos gehad nie, en my telefoon was in die huis.”

Bradley het glo probeer om na die teerpad toe te loop om hulp te ontbied, maar dit was te ver vir die klein seuntjie om reg te kom. Die kleuter het egter langs sy oupa bly sit, en hom by sy bewussyn gehou. “Ek wou kort-kort van die pyn flou val, maar Bradley het seker gemaak dat ek wakker bly, en hy het die vlieë en ander insekte weggejaag,” het Small bygevoeg. Bradley het aanhoudend vir sy oupa vertel hoe lief hy hom het. “Hy het dit seker 50 000 keer vir my gesê en dit is wat my wakker gehou het.”

Bradley het in ‘n stadium probeer om ‘n bakkie af te trek, maar die voertuig het net verbygejaag.

Weens die hitte en ontwatering en die koue in die aand sonder kos of skuiling, was Small só desperaat dat hy sy been wou afsny om hulle te red. Small glo dat hy binne ure sou sterf voordat hulle uiteindelik gered is. “Sowat ‘n dag later het Bradley ‘n vragmotor gehoor, en dié keer het die voertuig gestop. “My oupa het baie seergekry,” het Bradley aan die twee mans gesê.

Die twee Samaritane het dadelik ‘n ambulans ontbied en Bradley en Small is na die naaste hospitaal geneem. Wonderbaarlik het Small nie ‘n gebreekte been of ernstige beserings opgedoen nie, en, ten spyte van ontwatering, het Bradley niks makeer nie.

Small, wat glo nooit weer op ‘n vierwielmotorfiets gaan klim nie, het gesê dat sy kleinseun sy lewe gered het. “Hy het nie een keer gekla nie. As hy nie daar was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.