Goeie nuus: Nuwe multimiljoenrand-biblioteek in Gauteng

Meer Gauteng-inwoners sal voordeel trek uit die regering se belegging in infrastruktuurontwikkeling wat daarop gemik is om dienste by die mense uit te bring.

Lebogang Maile, Gauteng LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning en Nonkoliso Tundzi, uitvoerende burgemeester vir Westonaria plaaslike munisipaliteit sal die aanvang van Biblioteekweek vier wanneer die R7 miljoen biblioteek in Simunye, in die suide van Johannesburg op 16 Maart sy deure sal oopmaak. Die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek strek van 17 – 24 Maart. Dié indrukwekkende gebou sal gemeenskappe in die omgewing onder andere toegang tot sowat 4 500 boeke en ʼn gratis rekenaardiens bied.

“Die biblioteek sal en behoort ʼn belangrike bron vir studente, navorsers, en die inwoners van Simunye te wees wat hul lewens graag deur opleiding wil verryk. Dit (die biblioteek) behoort ʼn nuwe hart vir die gemeenskap te wees om nuwe krag en hoop vir ʼn blinker toekoms te bied. Ons wil graag sien dat die biblioteek ʼn bydrae lewer om die slaagsyfer onder leerders te bevorder en om mense bloot te stel aan werksgeleenthede,” het LUR Maile gesê. Sy departement is verantwoordelik vir biblioteekdienste in die provinsie.

Volgens die burgemeester moet die gemeenskap self voordeel trek uit die biblioteek. “Ons wil hê mense moet die biblioteek gebruik en langer daar bly sodat hulle opleiding kan ontvang: nie net vir hulleself nie, maar vir die gemeenskap en samelewing as ʼn geheel. Dit is slegs deur opleiding en harde werk wat ons ʼn bydrae kan lewer om ʼn verskil in die uitdagings te maak wat Suid-Afrika in die gesig staar,” het burgemeester Tundzi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.