Goeie nuus: Smul aan jou ouma se kos in Londen

Hoenderpotjie Foto: The South African Food Company

Suid-Afrikaners in Londen wat huis toe verlang, kan nou smul aan tradisionele Suid-Afrikaanse kos wat by hul voordeur afgelewer word.

The South African Food Company is die breinkind van twee Suid-Afrikaanse entrepreneurs, Schalk en Jana Meyer, wat die afgelope 12 jaar in Londen woon en werk. Dié onderneming is onlangs tydens die Suid-Afrikaanse Gemeente in Londen se Dankfees 2012 bekend gestel.

The South African Food Company vervaardig tradisioneel Suid-Afrikaanse geregte soos bobotie met geelrys, wors met chakalakasous en frikadelle, en verpak en bemark dit op Britse bodem.
“Wanneer ons saam met ons mede-Suid-Afrikaners hier in Londen kuier, hoor ons gereeld opmerkings soos ‘Ek mis geurige Maleisiese bobotie’ of ‘Ek sal nou enigiets gee vir pap en wors’. Met hierdie onderneming wil ons nie net die Suid-Afrikaners bedien nie – ons wil ook die Britte bekend stel aan die geurige, ryk verskeidenheid van ons kookkuns. Ons wil vir die wêreld wys dat Suid-Afrikaanse kos uit veel meer as biltong bestaan.”

Die Meyers het reeds in 2010 die eerste aanvoorwerk vir dié onderneming gedoen toe hulle aan ‘n paneel voedseltegnoloë en industriekenners voorbeelde van hul geregte voorgesit het. Die terugvoer was positief, en het hulle inspireer om verdere fokusgroepe en proebyeenkomste te hou. Daarna het hulle Suid-Afrikaanse etes in ‘n plaaslike koffiewinkel begin verkoop, en honderde verskillende resepte probeer en voorgesit om uit te vind wat die beste by mense aanklank vind.

Nou, agtien maande later, is The South African Food Company se eerste etes aan die publiek te koop aangebied by die Suid-Afrikaanse Gemeente se Dankfees.

As jy die Meyers vra wat hul klaargaar etes onderskei van ander etes wat in supermarkte beskikbaar is, gee hulle die volgende feite:
• Die etes bevat 60 tot 75% vleis (teenoor die 15 tot 30% vleis in supermark-etes)
• Dis geurig – elke gereg bevat tussen sewe en 14 verskillende kruie en speserye
• Die etes word op die tweede Donderdag van elke maand by jou voordeur afgelaai – net betyds vir Vrydagaand se huistoeverlang
• Kliënte kan porsiegroottes kies volgens hul behoeftes. Die verskillende porsiegroottes het interessante name wat aan Afrika-ekspedisies herinner, soos “Pioneer”, “Explorer” en “Discovery”.

Vir meer inligting oor The South African Food Company of om etes te bestel, besoek hul webwerf of sluit aan by hul Facebook-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rina Verwoerd ·

Kos bring soveel herinneringe met dit saam.
Julle het ‘n groot leemte gevul van verlange wat eers vêr was!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.