Goeie nuus: Stellenberg Hoër wen gróót met groentetuin by arm skool

Argieffoto

Toe Hoërskool Stellenberg ʼn liefdadigheidsprojek aangepak en boonop gewen het, het hulle veel meer as net geld gewen. Hulle het ook vriendskappe gekweek waarvan hulle lank die vrugte gaan pluk.

Dié hoërskool van Durbanville in die Wes-Kaap is onlangs aangewys as die algehele wenner van die ATKV-Handevatprojek vir 2012. Die skool het R50 000 gewen vir hul gemeenskapsontwikkelingsprojek wat hulle gedurende 2012 by die Paarl Vaardigheidskool van stapel gestuur het. Paarl Vaardigheidskool is ʼn skool vir leerders met fetale alkoholsindroom en ander leerprobleme.

ATKV-Handevat het ten doel om skole uit bevoorregte gemeenskappe te motiveer om opbouende en volhoubare projekte aan te pak saam met skole uit minder bevoorregte gemeenskappe

Hoërskool Stellenberg het ’n groentetuin by die Paarl Vaardigheidskool aangelê om dié skool se voedingskema aan te vul. Die Paarl Vaardigheidskool se 280 leerders kom hoofsaaklik uit armoedige gemeenskappe waar geweld en misbruik aan die orde van die dag is.

Hoërskool Stellenberg wou deur hul projek die nodige hulpbronne aan die leerders van Paarl Vaardigheidskool voorsien om hul potensiaal te ontsluit.  Die Handevatprojek het terselfdertyd vir leerders van albei skole die geleentheid gegee om vriendskappe te vorm met jongmense wat hulle andersins waarskynlik nooit sou ontmoet het nie. “Die leerders van Stellenberg het self die inisiatief geneem, die projek lewendig gehou en kreatief te werk gegaan om daadwerklike liefde vir hul naaste in hul besige programme in te pas,” het Lizané Basson, die projekorganiseerder van ATKV-Handevat, gesê.

Gedurende 2012 is tien skole se projekplanne goedgekeur.  Al die skole het R4 500 aanvangskapitaal ontvang om hul projekte ʼn aanvanklike hupstoot te gee.

Volgens Basson voeg die ATKV daad by woord om gemeenskapsontwikkeling aan te moedig.  “Daar word in totaal ’n bedrag van R130 000 se prysgeld deur die ATKV aan die wenners van hierdie kompetisie betaal.  Die skool wat die inisiatief vir die projek neem, asook die skool wat opgehef word, ontvang elkeen prysgeld om terug te ploeg in die gemeenskap.”

Die prysuitdeling van ATKV-Handevat vind op 22 Februarie plaas by die Paarl Vaardigheidskool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.