Google-donkie ‘lewendig en gesond’

Die foto wat op sosiale netwerke versprei is.

Die soekenjinreus Google sê geen diere is beseer tydens die vervaardiging van Google Street View nie.

Google het Woensdag die aankondiging gemaak nadat ʼn foto van ʼn donkie wat op ʼn grondpad in Botswana lê die week op sosiale netwerke versprei is met die bewering dat die Google Street View-span die donkie omgery het. Kei Kawai, woordvoerder van Google Maps, sê die donkie het bloot in die sand rondgerol. “As gevolg van die manier waarop ons 360-grade beelde aanmekaargesit word, het dit vir sommige mense gelyk of ons motor in ʼn tref-en-trap betrokke was. Ek is bly om te bevestig dat die donkie lewendig en gesond is.”

ʼn Gebruiker op Twitter het Maandag die foto van die donkie wat in die grondpad lê opgelaai. Die gebruiker, @TheRealSheldonC, het die foto op Twitter gelaai en geskryf: “Ek dink Google Street View se kar het in Botswana oor ʼn donkie gery.” Google Street View is tegnologie wat in Google Maps en Google Earth gebruik word wat ʼn panoramiese uitsig bied van talle strate wêreldwyd. Dit is op 25 Mei 2007 in verskeie stede in Amerika bekendgestel en het sedertdien na talle lande en plattelandse gebiede uitgebrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.