Google dreig om SA-man te dagvaar

Internetreus Google dreig om Andries Maree, ‘n jong entrepreneur van Middelburg in Mpumalanga, te dagvaar omdat sy webwerf se naam soos hulle s’n klink.

Maree (23) besit die webwerf doogle.co.za, ‘n webwerf wat werksoekers toelaat om hul besonderhede gratis op te laai, berig Beeld. Maree het skool in Graad 8 verlaat om te help om sy gesin te onderhou. Hy het twee jaar gelede sy werk verloor. Hy het vir ‘n ruk lank koerante verkoop, en in dié tyd het hy talle werkloses ontmoet. Hy was geïnspireer om ‘n databasis vir hulle beskikbaar te stel.

Hy het sagteware- en programmeringsvaardighede aangeleer deur glo “op webwerwe rond te speel”. Op 23 Oktober het hy egter ‘n aanmaningsbrief van Google se prokureurs ontvang wat aandui dat sy webwerf se naam mense onder die indruk sal bring dat daar ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die maatskappye bestaan. Maree het die beskuldigings ontken en gesê hy is ook bereid om ‘n kennisgewing op die webwerf te plaas wat dit duidelik sal stel daar is geen ooreenkoms tussen die twee maatskappye nie.

Maree se prokureur, Emmie de Kock, het gesê hulle stem nie met Google saam nie, en besluit nou hoe om voort te gaan. “Dit is ‘n moontlike Dawid-en-Goliat-stryd,” het sy gesê.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.