Google met reuse boete gedreig

Die Europese kommissie en Google voer samesprekings om te voorkom dat Google ‘n boete van €4 miljard opgelê word.

Die kommissie beskuldig Google daarvan dat dit sy dominante magsposisie op die internet misbruik om ten koste van mededingers meer geld te verdien. Dit is veral Google se strewe om hom van ‘n soekenjin in ‘n volledige inligtingsbron te omskep wat die vlieg in die salf is.

Die kommissie gebruik die voorbeeld van Google Maps. Sou iemand Google inspan om kaartbesonderhede te bekom, word die gebruiker eerstens na Google se eie produk herlei ten koste van mededingers. Sowat 90% van Europa se internetsoektogte geskied deur Google, ironies anders as in die VSA waar Google nie so oorheersend is nie. Microsoft is reeds in 2008 met €889 miljoen beboet nadat dié sagtewareinstansie daarvan beskuldig is dat hy sy markdominansie misbruik het.

Google kry ook in Frankryk die wind van voor. Nuusverskaffers wil betaal word vir die Google-verwysings na hul nuusberigte. Boonop word Google ook van belastingontduiking beskuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.