Gordhan se begroting het glo te veel belasting en te veel skuld

Pravin Gordhan, minister van finansies

Pravin Gordhan, minister van finansies

Pravin Gordhan, minister van finansies, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat Woensdag in die parlement ter tafel gelê is, is op ʼn onvolhoubare model van begrotingstekorte, groeiende regeringskuld en swaar belasting gebaseer, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Volgens Gordhan sal byna 10% van volgende jaar se begroting aan skulddelgingskoste bestee word.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, slaag die begrotingsraamwerk nie daarin om die groei van die Suid-Afrikaanse welsynstaat genoegsaam in te perk, regeringskuld in te kort en broodnodige verligting vir vuisvoos belastingbetalers te bring nie. “Dit is ontmoedigend om te hoor hoedat Gordhan planne voorlê vir ‘n vlak van maatskaplike besteding wat belastingbetalers lankal reeds besef het ʼn vermorsing van geld is en nie lewenstandaarde in Suid-Afrika volhoubaar kan verbeter nie,” het Le Roux gesê.

Le Roux het die bedenklike stand van Suid-Afrika se nasionale skuld onderstreep. “Regeringskuld het die afgelope dekade en veral oor die laaste vier jaar toegeneem. Dit kom tans op R1,6 biljoen te staan, direkte regeringskuldwaarborge vir finansieel onstabiele organisasies soos Sanral, Transnet, die SAL en Eskom uitgesluit.”

“Hoewel die huidige omgewing van buitengewoon lae rentekoerse beteken dat die regering se rente- en delgingskoste as ʼn persentasie van regeringsinkomste tans slegs 10% is, is daar in werklikheid ʼn beduidende risiko in geval van enige normalisering van rentekoerse. Indien rentekoerse na ʼn dekade gelede se vlakke sou terugkeer, kan die nasionale rente- en delgingskoste as ʼn persentasie van regeringsinkomste tot ongeveer 17% styg. So ʼn rente- en delgingslas sal moeilik wees om te dra en sal die ekonomie in die vorm van hoër belasting of hoër inflasie knel,” het hy bygevoeg. Die aangehegde grafiek beklemtoon die effek van rentekoersnormalisering op die nasionale rente- en delgingskoste.

Solidariteit het intussen sy misnoeë daarmee uitgespreek dat, ten spyte van beloftes vroeër vanjaar om die vakbond se voorstel van belastingkortings vir uitgawes aan persoonlike veiligheid in oorweging te neem, Gordhan nog steeds nie met Solidariteit daaroor in gesprek getree het nie. Solidariteit het ook geen reaksie op sy briewe aan minister Gordhan of tesouriewoordvoerder Jabulani Sikhakhane rakende die kwessie ontvang nie. Solidariteit bly steeds van mening dat belastingbetalers verligting behoort te ontvang van wat ‘n toenemende belastinglas blyk te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Solank as wat die groot maatskaplike toelaes voortduur en self groter raak, hoe meer sal dit bydra tot verdere verarming van Suid-Afrika. Hierdie toelaes maak mense al meer afhanklik maar verder ook al minder ondernemend en dus meer onproduktief. Hoe meer onproduktief die land raak hoe minder geld genereer hy – dus stelselmatige verarming. Belastings sal nie die groot las van die regering vir ewig kan dra nie omdat die belastingbron ook al kleiner gaan raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.