Gordhan se herverdelingbegroting onvolhoubaar

Pravin Gordhan, minister van finansies

Die boodskap van die Amerikaanse prediker, dr. Adrian Rogers, was dat welvaart nie vermenigvuldig kan word deur dit te verdeel nie. Dit is dan ook die belangrikste beswaar teen Pravin Gordhan, minister van finansies, se mediumtermynbegroting. Suid-Afrikaners se welvaart kan nie vermenigvuldig word deur ’n herverdelingsbegroting nie. Slegs ’n derde van Gordhan se begroting word nie aan herverdeling gewy nie – 65% van die begroting word op die sogenaamde “social wage” bestee.

Waar kom die geld vir hierdie “social wage” vandaan? Dit is duidelik dat die regering bereid bly om baie effektief te wees om meer en meer belasting uit hardwerkende Suid-Afrikaners te tap. Maar wat van ‘n bietjie effektiwiteit aan die bestedingskant, of selfs besnoeiings in hierdie finansieel moeilike tye? Realisme vereis ongelukkig dat ons nie waarde kan heg aan die soveelste versekerings van ‘n minister van finansies dat die regering voortaan besteding meer effektief gaan hanteer nie.

Reeds met die Februarie-begroting het die Solidariteit Navorsingsinstituut gewaarsku dat die sogenaamde belastingverligting slegs ‘n skynverligting is. Met die mediumtermynbegroting bevestig Gordhan inderwaarheid dat die belastinglas aanhou groei. Gordhan spog daarmee dat groei in belastinginvordering aan volgehoue verbetering in belastingnakoming toegeskryf kan word. Hy begroot vir belastinginvordering om van R901 miljard tot R1 200 miljard te styg teen 2015.

Dit wat Gordhan as beter belastingnakoming beskryf, is egter niks anders as swaarder belasting op hardwerkende Suid-Afrikaners nie.

Die klem op beter invordering staan in kontras met die regering se bestedingskant – ’n donker gat van teenproduktiwiteit. Belasting verteenwoordig skaars hulpbronne wat uit welvaartskeppers se hande geneem is. Dit verhoed hulle om deur die markekonomie welvaart vir almal te skep. Dit is egter nie al nie: Hierdie geld word dan nog boonop op ’n hopelose wyse deur die regering bestee – dikwels met teenproduktiewe gevolge.

Oor een ding het Gordhan nogal ‘n punt beet. Hy het gewaarsku dat Suid-Afrikaners se bereidwilligheid om belasting te betaal nooit as vanselfsprekend gereken moet word nie.

So is dit, ja. Dit is onvermydelik dat ondoeltreffende en teenproduktiewe staatsbesteding besorgde Suid-Afrikaners al hoe meer beswaard sal maak om belasting te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.