Goudbedryf: Kamer van Mynwese maak finale aanbod

Die Kamer van Mynwese het Dinsdagmiddag ʼn finale aanbod van ʼn verhoging van 6% vir Solidariteit se lede in die goudbedryf gemaak. Die aanbod neem die vorm aan van ʼn tweejaarooreenkoms en is aan ʼn winsdelingskema gekoppel. Die verhoging vir jaar een bly dieselfde in jaar twee. Die vakbond het tot Donderdag 29 Augustus om op die aanbod te reageer.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die vakbond het die Kamer versoek om uitstel tot einde volgende week aan hom te verleen sodat hy sy lede kan raadpleeg. “Dit sal die vakbond ook kans gee om voorleggings van die onderskeie mynhuise oor hul onderskeie winsdelingskemas te ontvang en uitstaande eise te finaliseer.” Du Plessis het gesê die partye sal weer Donderdagoggend vergader oor Solidariteit se versoek.

Die Kamer se vorige aanbod was vir ʼn 5,5%-verhoging. Du Plessis het gesê die finale aanbod volg nadat Solidariteit Maandag sy eis van ʼn 10%-verhoging op die totale kostepakket na ’n 8,3%-verhoging op basiese salaris verander het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.