Goudbedryf: “Kamer van Mynwese verloor morele en etiese kompas”

Die Kamer van Mynwese het sy ooreenkoms met Solidariteit verbreek nadat hy Donderdag ʼn dooiepunt in onderhandelinge vir mynwerkers in die goudbedryf verklaar het. Die Kamer het sodoende in gebreke gebly om Donderdag aanbiedings rakende die onderskeie mynhuise se geheimsinnige winsdelingskemas aan Solidariteit te doen. Die Kamer het ook nie terugvoer gegee oor Solidariteit se versoek om aan die vakbond uitstel tot einde volgende week te verleen sodat hy sy lede oor die Kamer se finale aanbod kan raadpleeg nie.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die Kamer het kollektiewe bedinging ’n doodsteek gegee deur te weier om met Solidariteit, wat nog tot ʼn onderhandelde skikking verbind is, te onderhandel. “Dit is dus duidelik dat die Kamer die uitsluitingsroete (lockout) wil volg, wat tot ʼn bloedige staking deur gegriefde mynwerkers van ander vakbonde kan lei. Die Kamer sal die aankondiging waarskynlik vanmiddag tydens ʼn mediakonferensie maak.”

Solidariteit doen ʼn dringende beroep op die Kamer om geen drastiese stappe te doen wat kollektiewe bedinging en vakbonde wat te goeder trou optree, kan ondermyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.