Goudbedryf: Ooreenkoms ʼn oorwinning vir kollektiewe bedinging

goudDie ondertekening van die tweejaar-ooreenkoms vir ʼn salarisverhoging vir werknemers in die goudbedryf is ’n oorwinning vir kollektiewe bedinging en goeie arbeidsverhoudinge, het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê. Die ooreenkoms, wat deur Solidariteit, die NUM, Uasa en die Kamer van Mynwese onderteken is, kan die draaipunt wees om die goudbedryf op die wenpad te plaas.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die vakbond is vol lof vir die wyse waarop die kamer en die vakbonde hul verskille te bowe gekom het om die geskiedkundige ooreenkoms te onderteken. “Die onderhandelinge het teen die agtergrond van geweldadige onbeskermde stakings en geweldige druk in die goudbedryf plaasgevind. Die ooreenkoms is nie vir vakbonde of werkgewers bevredigend nie, maar dui op toegewings wat beide partye moes maak om die goudbedryf se volhoubaarheid voorop te stel.” Aangesien die ooreenkoms in die goudbedryf deur die meerderheid van vakbonde in die sektor aanvaar is, is dit op alle werknemers in die goudmynsektor, wat onder die kamer se beheer val, van toepassing gemaak. Onderhandelinge in die goudbedryf het nou finaal tot ‘n einde gekom benewens die feit dat alle vakbonde nie die ooreenkoms onderteken het nie.

Du Plessis het gesê Solidariteit wil in besonder die NUM loof vir die wyse waarop hulle die frustrasie van hulle lede met ’n baie kort en gedissiplineerde staking uitgebeeld het. “Die NUM-leierskap en hul lede se begrip vir die uitdagings in die goudbedryf word deur hul aanvaarding van die kamer se hersiene aanbod geïllustreer. Die ooreenkoms skiet in vele aspekte tekort om werkers se uitdagings die hoof te bied, maar plaas nie werkers se werksekerheid op die spel nie.”

Solidariteit het ’n beroep op Amcu gedoen om ook die finale aanbod in belang van die volhoubaarheid van die goudbedryf en, in die besonder, in belang van hulle lede se werksekerheid te aanvaar. Solidariteit het voorts ’n beroep op die Kamer van Mynwese en werkgewers gedoen om die moed van hulle oortuiging te hê om enige verdere onwettige optrede in die mynbedryf met ’n toekomsfokus en ʼn beleid van zero-verdraagsaamheid te benader.

Solidariteit het verder die hoop uitgespreek dat die vakbonde en die kamer op 18 September ’n skikking tydens die finale ronde van die onderhandelinge in die steenkoolbedryf sal bereik en sodoende die risiko van probleme rakende kragvoorsiening beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert Malan ·

Whaaaaaaaaaaahahaha, net volgende week kry hulle weer iets anders om oor te huil en dan staak hulle, in plaas van dat hulle werk en hul geld verdien. Dit is darem verskriklik dat jou vakbondleiers so onnosel is om nie vir jou uit te spel watter skade hierdie gedrag van werkers ons land se ekonomie aandoen nie. Ek wonder wat gaan hulle maak as die myne sluit. Soos al die lande rondom alreeds in hul moer is, is ons amper daar, en is daar nerens heen om te vlug nie – voorland – Zimbabwe, Mosambiek, Malawi en, en, en………. Ou skeeloog en sy trawante is SO bang om iets te se want dan verloor hulle steun vir die verkiesing. Verder is hulle ook nie gepla nie want hulle hoef nie te onderhandel vir salariss nie, hulle flippin steel dit sommer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.