Goudbedryf: Solidariteit gaan voort met onderhandelinge met die Kamer van Mynwese

Die onderhandelinge tussen Solidariteit en die Kamer van Mynwese oor verhogings vir werknemers in die goudbedryf word Maandag voortgesit.

Solidariteit sê hy sal voortgaan met sy poging om ʼn onderhandelde skikking te bereik terwyl twee ander vakbonde ʼn dooiepunt in die onderhandelinge verklaar het en ʼn sertifikaat uitgereik is wat hulle die geleentheid bied om te begin staak. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê die vakbond het in oorleg met sy verteenwoordigers om drie redes die besluit geneem om nie ʼn dooiepunt te verklaar nie. “Eerstens, hoewel Solidariteit baie teleurgesteld is dat die Kamer in gebreke gebly het om sy vorige aanbod van ʼn verhoging van 5,5% vir vaardige werknemers te verhoog, is daar wel aan agt van die vakbond se tien ander substantiewe eise voldoen. Die salarisverhogingpersentasie bly die hooffokus van Solidariteit se eise, maar die gees waarin aan die ander substantiewe eise voldoen is, skep die platform vir voortgesette onderhandelinge. Tweedens bestaan daar ʼn onderhandelingprotokol by die Kamer dat die werkgewers in ʼn stadium amptelik verklaar dat hul “finale aanbod” op die tafel is. Op hierdie punt moet vakbonde dan ook finaal oor die aanbod besin. Solidariteit glo dus dat ʼn dooiepunt nog nie bereik is nie en die Kamer nog ʼn finale aanbod moet maak. Laastens doen Solidariteit se leierskap ʼn beroep op sy lede in die goudbedryf om met groot omsigtigheid die besluit te neem oor of hulle hul tot ʼn staking wil wend. Solidariteit is ʼn lede-organisasie en indien dit ons lede se wens is om wel later te staak, sal ons dit eerbiedig. Solidariteit se gevoel is egter dat die klem nou op werksekerheid en die volhoubaarheid van die goudbedryf geplaas moet word en dat dit ʼn verloor-verloor situasie sal wees om te staak.”

Du Plessis sê Solidariteit doen ʼn beroep op die Kamer om die moed van oortuiging te hê om Maandag ʼn hersiene aanbod op die tafel te plaas wat vakbonde sal ontmoedig om te staak. “Solidariteit is van mening dat die Kamer ʼn substantiewe gedeelte van hul finale aanbod terughou om genoegsame bedingingsruimte te hê om ʼn skikking tydens ʼn staking te bewerkstellig. Solidariteit wil egter die finale aanbod om die onderhandelingstafel beding en nie in die strate nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.