GPF vang verdagte ná vier gesinne se honde vergiftig is

Max (links) en Sasha. Foto: Verskaf

Max (links) en Sasha. Foto: Verskaf

Trane, verlange, verlies en ongerief, is wat ʼn gesin van Pretoria nou beleef nadat hulle honde saam met drie ander gesinne se honde vandeesweek in hul woonbuurt in Centurion vergiftig is.

Pierre Verster, ʼn inwoner van The Reeds, het Vrydag aan Maroela Media gesê twee van sy vier honde is Maandagoggend vergiftig. “Ons het twee Jack Russels, ʼn Dobermann Sasha wat sewe maande oud was, en ʼn Dobermann/foksterriër-kruising Max wat vyf maande oud was, gehad. Die Jack Russels word agterin die erf toegemaak in die aande en die ander twee voor,” het Verster gesê.

Verster se vrou, Wendi, het Maandagoggend omstreeks 08:30 vir Max na ʼn dierekliniek gehaas nadat hy inmekaar gesak het. “Ons het dadelik vermoed die hondjie is vergiftig. Wendi het met hom na die veearts toe gejaag, en toe sy skaars ʼn uur later by die huis aankom, het Sasha óók op die grond gelê. Wendi is met haar na ʼn ander veearts toe.” Die Jack Russels is ongedeerd.

Sasha is Dinsdag by die veearts dood en Max moes Donderdag uitgesit word omdat niks meer vir hom gedoen kon word nie en hy baie gely het.

Verster het gesê hy het vier kinders, twee tienerseuns en ʼn 10-jarige seun en 6-jarige dogter. “Die klein kinders huil die heeltyd. Hoe kan ʼn mens hulle in die oë kyk en sê hulle geliefde troeteldiere is dood omdat gewetenlose monsters hulle vergif het?” Verster sê hy en sy twee tienerseuns staan elke aand sedert die voorval wag in die huis om te verseker die skuldiges kom nie terug om by hul huis in te breek nie. “Ons maak beurte om wag te staan van 23:00 tot 05:00. Dit is ʼn groot ongerief en ons vrees vir ons veiligheid,” het hy gesê.

Verster het die twee veeartse, waaronder dr. Shereni Joshi van Panorama Vet, geloof vir hul toewyding en passie wat hulle getoon het in hul pogings om die diere se lewens te red.

Mynhardt le Roux, ʼn lid van die Wierdabrug-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het aan Maroela Media gesê die skuldiges het Maandagoggend honde by vier huise in The Reeds vergiftig. By drie van die huise is die honde dood.

“Ons het Dinsdagaand ekstra patrollies gedoen en veral die huise dop gehou waar die hondevergiftigings aangemeld is,” het Le Roux gesê. “Woensdagoggend om 01:00 het ons drie verdagtes gewaar wat inbraaktoerusting by hulle gehad het. Hulle was buite een van die huise waar die honde vergiftig is.”

Die verdagtes het die lede gewaar en begin vlug. “Twee van hulle kon daarin slaag om te ontsnap. Hulle het oor verskeie huise se mure gespring om weg te kom, maar ons het een verdagte aangekeer en hy is aan die Wierdabrug-polisie oorgegee. Hy word aangekla van oortreding en die besit van toerusting om mee in te breek.”

Le Roux sê hulle is ekstra paraat ná die voorvalle en het Woensdagaand ook ʼn verdagte voertuig in die woonbuurt sien rondry. “Die voertuig het egter die hasepad gekies nadat hulle ons gesien het.” Hy sê die GPF hou tans die woonbuurt met valkoë dop en het ʼn beroep op inwoners gedoen om hulle oë en ore te wees. Mense in die gebied wat onraad vermoed kan die GPF se voorsitter, Pierre Viviers by 083 737 7902 bel.

Le Roux en dr. Joshi het bevestig dat die gif Temik, ook bekend as Two Step, gebruik is om die diere te vergiftig. Temik is dodelik vir mense en diere en ʼn hond kan binne twee ure sterf as hy dit ingekry het. Dit lyk soos klein swart peperkorrels en word gewoonlik aan kos soos maalvleis, wors of brood aan honde gevoer. Partykeer eet ander diere, veral katte, daarvan en kom dieselfde lot oor.

Dr. Joshi het aan Maroela Media gesê daar is tekens wat aandui as ʼn hond of kat daardeur vergiftig is. “Die dier sal rukbewegings maak soos wat sy senuweestelsel aangeval word. Die dier kan ook oormatig braak en diarree kry met bloed in. Daar kan ook skuim om die dier se mond voorkom en dit sal stuiptrekkings kry. Sodra enige van dié simptome by ʼn dier waargeneem word, moet dit so gou as moontlik by ʼn veearts uitkom,” het sy gesê.

Sy sê die hoeveelheid tyd wat ʼn persoon het om die dier te red, hang af van hoeveel gif die dier ingekry het. “Max moes geweldig baie ingekry het, en dit was vir ons baie hartseer om hom nie te kon red nie,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.