Ondersoekbeamptes het glo “meeste van die bewyse” in ‘n grafskendingsaak teen Mandla Mandela ingesamel.
“Ondersoekbeamptes het meeste van die bewyse ingesamel en die dossier sal volgende week Dinsdag aan ‘n senior staatsaanklaer oorhandig word,” het lt.kol. Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die polisie in Mthatha, gesê.
Familielede van voormalige president Nelson Mandela het Dinsdag die saak teen Mandla Mandela, Madiba se kleinseun, aanhangig gemaak nadat hy erken het dat hy die oorskot van sy pa, Makgatho Mandela, en twee ander familielede twee jaar gelede geskuif het.
Die oorskot van die drie is Woensdag by Mandla se tuisdorp Mvezo opgegrawe nadat ‘n hofbevel deur die Oos-Kaapse hooggeregshof aan 16 familielede toegestaan is. Die oorskot is Donderdag weer by Madiba se huis in Qunu begrawe.
Mandela bly in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
2 Kommentare