Graskop-gemeenskap hou optog teen swak munisipale bestuur

Graskop. Foto: Graskop.co.za

Graskop. Foto: Graskop.co.za

Die gemeenskap van Graskop het Vrydag tydens ’n optog na die Thaba Chweu-munisipaliteit ʼn memorandum oorhandig waarin hulle onder meer beter dienste en die afdanking van die eenheidsbestuurder versoek.

Graskop, Sabie en Lydenburg, wat deur die Thaba Chweu-munisipaliteit bedien word, was eens die toonbeeld van mooi dorpe in Suid-Afrika, maar word deesdae gekenmerk deur swak dienslewering, vervalle infrastruktuur en finansiële misdrywe asook korrupsie, rioolprobleme, problematiese stortingsterreine en slaggate.

AfriForum het namens die inwoners minagtingsaansoeke teen Godfrey Nkosi, die munisipale bestuurder gebring en eis ook sy inhegtenisneming. Die munisipaliteit gaan naamlik gebuk onder finansiële misdrywe en korrupsie.

Dié burgerregte-organisasie het in 2013 met ʼn hofinterdik ingegryp nadat Eskom die dorpe se elektrisiteit wou afsny, omdat die munisipaliteit versuim het om hulle Eskom-skuld te vereffen.

“Die enorme skuldlas is opsigself erg, maar bykomend daartoe is daar weekliks gerugte en bewyse van korrupsie binne die munisipaliteit. Ons praat van buitensporige bedrae wat byvoorbeeld betaal word aan ‘vriende van die munisipaliteit’ om gras te sny of om ’n afgebrande hospitaal skoon te maak asook die reusebedrae wat aan die huur van motors bestee word, omdat die munisipale voertuie stukkend is,” het Ruan Lottering, AfriForum se organiseerder vir Mpumalanga, gesê.

Volgens AfriForum sny die munisipaliteit elektrisiteit af om hul skuld te probeer delg, selfs by besighede waar daar jare laas lesings geneem is of waar hofinterdikte die afsny verbied. Rekeninge is ook deurmekaar en foutief.

“Dit lyk asof die Munisipaliteit net bedrae op rekeninge sit en verwag dat die inwoners moet betaal. Van die rekeninge stem nie ooreen met die verbruik op meters nie,” het Lottering gesê.

AfriForum ondersoek tans die beweerde korrupsie en bedrog, en sal regstappe doen om die skuldige amptenare tot verantwoording te roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.