Grey klop Paarl Boys in taai Bloem-stryd

Ten spyte van ‘n verbete terugvegpoging in die tweede helfte het Grey Kollege weer eens koning gekraai teen Paarl Boys’ High met ‘n telling van 35-28.

Die halftydtelling was 27-12 in die guns van Grey. Die wedstryd het groot belangstelling onder die alumni, ouers, huidige leerlinge en die breë publiek uitgelok met oudleerlinge van beide skole wat van heinde en verre na Bloemfontein gestroom het om hul ondersteuning te gee. Twintig busse het ook vanaf die Paarl gery om die Paarl Boys-leerlinge by die wedstryd uit te kry.

Die wedstryd het nie teleurgestel nie met beide spanne wat hul harte uitgespeel het. Ondanks Grey se groot voorsprong binne die eerste minute van 20-0, het Paarl Boys hulself teëgesit en daarna was dit enigiemand se wedstryd. Die eerste helfte het ‘n allemintige vyf drieë opgelewer. Die Kaptein Marius Louw, die vleuel Henry Immelman en die senter Carel Durow het namens Grey gaan druk, en die ander kaptein, Thomas du Toit, en die flank Charlton Jones het vir Paarl Boys oorgeduik.

Die eerste helfte het aan Grey behoort met Paarl Boys wat 17 duikslae gemis het teenoor Grey se ses, en die Vrystaters wat 61% gebiedsvoordeel geniet het. Stephan Rautenbach en Stefan Gouws het onderskeidelik names Grey en Paarl Boys met talle skoppe pale toe geslaag.

Die tweede helfte het egter ‘n ander draaiboek gehad en Paarl Boys het vroeg reeds gewys hulle is ernstig daaroor om die beste rugbyskool in die land te klop. Gouws het die telbord met twee strafskoppe laat aanstap voordat die Paarl Boys-slot Hein Kritzinger danksy groot druk deur sy voorspelers oorgeduik het vir ‘n drie. Gouws het die telling 27-25 gemaak. Daarna het Rautenbach weer ‘n strafdoel oorgeklits met Grey se vaskopstut, Andrew du Plessis, wat kort voor rustyd die wen verseël het met ‘n kraglopie en die gevolge drie in die hoekie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.