Griekwas klop Haaie in Durban

Die Griekwas het vroeg reeds hul stempel in vanjaar se Curriebeker Premierliga afgedruk toe hulle die Haaie in Durban net-net met 32-30 geklop het.

Die halftydtelling was 20-16 in die guns van die Haaie. Die troepe van Kimberley se kanniedood-houding en ook Nico Scheepers se skopskoen, wat met agt uit agt pogings pale toe suksesvol was, het hul oorwinning oor een van die groot unies verseker. In wat andersins ’n taamlik saai wedstryd in nat en koue omstandighede was, het die einde darem vir groot drama gesorg toe Carel Greeff deur sy mede-Griekwas oorgedryf is vir ’n drie toe speeltyd reeds verstreke was. Met die tellings gelykop, het Scheepers met sy laaste poging pale toe geslaag.

Die Griekwas het vroeg reeds hulself laat geld en het alle fasette in die eerste 15 minute oorheers. Hierdie voordele het puntevrugte afgewerp toe Marnus Schoeman reeds in die vierde minuut gaan druk het. Scheepers het die drie verdoel en twee strafdoele oorgeklits om die telling 13-0 te maak.

Daarna het die momentum weer aan die Sharks behoort. Die veteraan Butch James het twee strafskoppe oorgeskop voordat die Charl McLeod ’n vinnige tikskoppie geneem en die Haaie-kaptein Jacques Botes die bal opgepik het toe McLeod platgeduik is en gaan druk het. James het sake gelyk gemaak met die doelskop.

Botes het kort voor rustyd ’n tweede drie gedruk toe hy agter die skrum weggebreek en om twee Griekwa-verdedigers gesystap het om oor te duik. James se doelskop en nog ’n strafskop deur Scheepers was die laaste punte van die eerste helfte.

Die Griekwas het weer die druk verhoog in die eerste tien minute van die tweede helfte en Scheepers het twee strafskoppe oorgeklits om sy span weer met 22-20 te laat voorloop. Cobus Reinach en Odwa Ndungane het ná ’n hoë skop deur die Griekwas gapings in die Poubloues se verdediging gevind en Ndungane het die bal vir Lwazi Mvovo gegee het om af te rond. James het die telling 27-22 gemaak. Scheepers en James het albei met ’n strafdoel elk geslaag voordat Greeff sy drie gedruk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Margaretha von Wielligh ·

Mooi Griekwas!!!!!!!! Ek is baie bly vir hierdie oorwinning. Ek hoop julle maak dit hierdie jaar. Sterkte

willy ·

Geluk julle. Hierdie klink soos die Bybelverhaal waar Dawid Goliat verslaan het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.