Griekwastad-moorde: Familielid vas

Forensiese toetse lei glo tot inhegtenisname. Lees meer hier.

'n Foto van Deon, Christelle en Marthella Steenkamp tydens hul roudiens. Foto: Maricelle Botha/OFM

‘n Minderjarige familielid is glo Dinsdagmiddag in hegtenis geneem vir die moorde op ʼn Griekwastad-gesin.

Rapport het Dinsdag op Twitter geskryf: “’n Minderjarige familielid is gearresteer vir die moorde van Deon, Christelle en Marthella Steenkamp naby Griekwastad oor die Paasnaweek.”

Deon, Christelle en Marthella is vanjaar op Goeie Vrydag op hul plaas buite Griekwastad doodgeskiet.

Christelle (43) is na bewering eerste in die huis se oopplan televisiekamer geskiet. Sy het glo by ʼn rekenaar gesit en werk waar sy glo twee keer geskiet is. Die doodskoot was vermoedelik in haar agterkop. Deon (44) is glo volgende geskiet. Hy is drie keer geskiet waaronder een keer in die kop. Marthella (14) het glo probeer vlug en is buite die huis geskiet voor sy terug in die huis in gesleep is. Sy is na bewering twee keer geskiet waaronder een keer in die kop. Hulle is volgens berigte met ʼn .22 geweer en .357 Magnum-rewolwer geskiet wat aan Deon behoort het. Die egpaar se seun Don (wat tydens die voorval 15 was) is die enigste oorlewende lid van die gesin. Hy het glo op hul lyke afgekom.

Maroela Media het op 17 April berig ’n tienerseun is deur die polisie verdink van die moorde en dat daar slegs een skieter was. Die polisie het egter vir ondersteunende getuienis, soos die uitslae van forensiese toetse, gewag.

Polisiewoordvoerder Cherelle Ehlers kon egter nie veel oor die inhegtenisname uitbrei nie. Sy het aan Maroela Media gesê dat daar in hierdie stadium geen amptelike kommentaar oor die aangeleentheid beskikbaar is nie en dat die polisie binnekort ʼn amptelike verklaring sal uitreik. Die verdagte sal na verwagting Donderdag in die hof  verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.