Griekwastad-moorde: ‘Koelbloedig en vooraf beplan’

Foto: OFM

Die staat het gister in die Griekwastad-landdroshof aangevoer dat die 16-jarige seun wat aangekla word van die moord op Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), die moorde vooraf beplan het en dit koelbloedig uitgevoer het.

Hannes Cloete, staatsaanklaer, het die tiener se borgaansoek teengestaan. Cloete het aan die hof gesê dat die direkteur van openbare vervolging die seun van drie aanklagte van moord met voorbedagte rade sal aankla. Willem Coetzee, die seun se regsverteenwoordiger, het twee getuies geroep in sy borgaansoek. Die eerste getuie het getuig dat hy en sy gesin na die seun omsien. Hy het getuig dat die seun goed doen op skool en dat hy nie met die staat se ondersoek sal inmeng nie. Hy het gesê dit sal goed wees indien die seun sy lewe so normaal moontlik kan hou deur steeds skool by te woon. ʼn Maatskaplike werker wat die seun behandel het ook getuig dat dit in die seun se belang sal wees om hom in ʼn stabiele omgewing te hou. Cloete het egter aangevoer dat hoewel die seun nie met die staat se getuies of bewysstukke sal kan inmeng nie, hulle sy medeleerlinge in gedagte moet hou. Die staat voer aan hy het ʼn sterk saak teen die seun. Cloete sê daar is oortuigende bewyse dat die seun die Steenkamp-gesin koelbloedig vermoor het. Hy het ook getuig dat niemand se veiligheid verseker kan word indien die seun op borg vrygelaat word nie. Die borgaansoek gaan vandag voort.

Hofsake waar kinders verdagtes is, word gewoonlik in kamera aangehoor maar landdros OS Mazwi het gelas dat die media die hofverrigtinge mag bywoon na ʼn aansoek van Media24. Hy het egter gelas dat die seun op geen manier geïdentifiseer mag word nie.

Die Steenkamp-gesin is op Goeie Vrydag op hul plaas Naauwhoek buite Griekwastad doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.