Griekwastad-moorde: Verhoordatum bekend

Die verhoordatum van die 16-jarige seun wat verdink word van die moorde op die Steenkamp-gesin, is vandag bekendgemaak.  Die tiener sal van 11 tot 29 Maart 2013 verhoor word.

Die seun is tydens sy vorige verskyning op 3 September op borg van R5 000 vrygelaat. Hy is in hegtenis geneem weens die moorde op Deon Steenkamp (44), sy vrou Christelle (43) en hulle 14-jarige dogter Marthella op Goeie Vrydag. Volksblad het vroeër berig dat die verhoor volgende jaar in Maart behoort te begin. Die staat was glo gereed om reeds einde November met die verhoor te begin maar die tiener se regsverteenwoordiger is glo nie dan beskikbaar nie. Die staat se aansoek om appèl teen die toestaan van borg aan die seun sal intussen op 4 Oktober in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor word. Die staat voer aan dat die landdros fouteer het hom die seun op borgtog vry te laat.

Die seun se voog het intussen ook vroeër die maand buite die hof met die tiener se hoërskool geskik. Die voog het hom tot die hof gewend in ʼn poging om die skool te dwing om die seun weer tot die skool toe te laat. Volgens die skikking sal die seun tuisonderrig ontvang en sal die skool alle nodige leermateriaal aan hom verskaf. Die seun bly ook ʼn leerling aan die skool en kan hy onderwysers kontak indien hy hulp met sy skoolwerk nodig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.