Groblersdal: Vrou ontken aandeel in moord

Simone Papapavlou (26) in die beskuldigdebank van die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

Simone Papapavlou (26), die weduwee van die vermoorde plaasvoorman van Limpopo, Raymond Gregory Papapavlou (28), het Donderdag in die hof aangevoer die staat het nie ʼn sterk saak teen haar nie.

Papapavlou se borgtogaansoek het Donderdag in die landdroshof op Groblersdal begin. Sy het saam met haar vriendin, Patricia Ray Lee Smith (23), in die beskuldigdebank gestaan.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle in Oktober verlede jaar saamgesweer het om Raymond te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ’n romantiese verhouding betrokke.

Papapavlou staan voorlopig tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling.

In ’n beëdigde verklaring wat deur Papapavlou se regsverteenwoordiger, Sonja Weideman, in die hof voorgelees is, ontken Papapavlou dat sy en Smith saamgesweer het om Raymond dood te maak. Sy het ook ontken dat sy ooit in die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen was.

Volgens Weideman sal dit in die belang van geregtigheid wees dat Papapavlou op borgtog vrygelaat word.

“Daar is geen voldoende redes waarom haar borgtogaansoek teengestaan moet word nie,” het Weideman aangevoer.

Volgens Weideman beskik Papapavlou oor ʼn permanente adres en is sy nie ʼn vlugrisiko nie. Sy woon tans by haar ouers in Bronkhorstspruit.

Smith en Papapavlou in die beskuldigdebank in die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

“As Papapavlou wou vlug, sou sy dit al in Oktober gedoen het, toe Smith in hegtenis geneem is en sy al as verdagte verdink was.”

Weideman het ook aangevoer dat Papapavlou nie ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou nie en ook nie aggressief van aard is nie. Sy sê Papapavlou het ook geen vorige oortredings teen haar nie.

Volgens Weideman is Papapavlou se gesondheid swak en is sy glo op medikasie vir depressie en epilepsie. Sy het glo na haar man se dood ʼn psigiater gaan sien, wat haar toe op medikasie vir depressie geplaas het. Sy gebruik glo ook medikasie vir insulienweerstandigheid.

Weideman het aangedui dat Papapavlou R5 000 borgtog sal kan betaal.

Die staat het aangedui hulle gaan Papapavlou se borgtogaansoek teenstaan.

Smith is in November verlede jaar op borgtog van R5 000 vrygelaat. Smith staan op haar beurt nog tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Daar word beweer dat Simone haar man reeds op 9 Mei verlede jaar probeer vermoor het deur gif in sy kos te gooi. Die 28-jarige Papapavlou is volgens die polisie in ’n hospitaal opgeneem, maar later weer ontslaan. Hy is sowat vyf maande later in sy plaashuis tussen Groblersdal en Stofberg doodgeskiet.

Maroela Media het vroeër berig Papapavlou se liggaam is in Oktober verlede jaar in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy huis aangetref.

Hy het op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers gelê en slaap terwyl sy vrou, Simone, glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het aangevoer dat sy ’n skaduwee in die huis gesien het waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee afgevuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Elize ·

Hoekom is hulle altyd siek nadat hulle verkeerd opgetree het? Was hulle nie ten tye van hulle optrede siek nie? Hoekom dit nou as ‘n verskoning wil gebruik?

Anoniem ·

Ai, Depressie kry ook skuld vir baie. Daar is duisende wat aan depressie ly en ook behandeling ontvang, en daar is gevangenesse wat gevonnis is al ly hul aan erge depressie.

Elinette ·

Ja-nee, sowaar. Ek ly ook aan depressie en is met BGV gediagnoseer en drink handevol pille elke dag vir ander kwale, maar maggies, as ek iemand doodmaak, sal ek maar moet gaan SIT!!!

Misky ·

Ek sal ook siek word as ek weet ek het my man vermoor en het ‘n dom ding aangevang

Sarel ·

Wel….kindermolesteerders en moordenaars ontvang
Telkens Borgtog….so wat is die Kriteria..

Hardekwas ·

Ek weet niks, ek het niks gesien nie en ek kan niks onthou nie.

Jan Seerot ·

Lan laas daai een gehoor. Hier waar ek nou bly is daar nie eers sprake van slaaiblare nie.

SjN ·

Dit kom daarvan as jy verkeerde vriende het en jy vir die ander span begin speel, hoekom nie skei nie, daar gaan ook lewenspolisse betrokke wees, geld wat stom is maak reguit wat krom is.

Elinette ·

“The bloodied hand” kom hier in. As sy onder verdenking is dat sy ‘n aandeel in haar man se dood gehad het, sal die versekeraars op haar spoor wees om enige vorm van lewenspolis wat uitbetaal is aan haar, terug te kry.

Bertus ·

Wees ‘n groot meisiekind en gaan doen tyd Skatlam. Jy is vas.

Janine ·

Ek het vir jare epilepsie (Grand Mal) fits gekry. Was OOK op insulienweerstandige meds. Nog nooit dit as verskoning gebruik nie.

Jan Seerot ·

Omstandigheidsgetuienis kan nogal ongemaklik raak, Lettie. (Met apologie aan Aai)

Casper ·

Hoekom was sy nie aangekla oor die gif insident nie.As dit nie kan bewys word nie mag dit nie teen haar gehou word tydens haar borgtog aansoek nie.Alles wat nou teen haar geopper word is spekulasie.Dit blyk dat daar geen prima facie bewyse teen haar is nie.Hoekom impliseer Smith nie vir Simone nie.Simone is nie insulienweerstandig nie.

Kathleen ·

Die 6 de gebod sê vir jou jy mag nie moord pleeg nie . Kry vir julle !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.