Groenpunt-stadion word dalk afgebreek

Daar heers tans ‘n hewige debat of Kaapstad se stadion in Groenpunt afgebreek moet word.

Terry Crawford-Browne, aktivis, glo dat die R4,5 miljard-stadion afgebreek moet word en voeg by dat die aanskaffingsproses nie oop of koste-doeltreffend was nie, berig EWN. Crawford-Browne het FIFA daarvan beskuldig dat hulle die stad afgepers het om dié stadion te bou.

Hy beweer dit sal bykans onmoontlik wees om die stadion te onderhou. Die stad Kaapstad sê egter dat hy nie die stadion wil afbreek nie, alhoewel Gordon Metter, van die Kamer van Handelwese, sê “dit is nog te vroeg om te sê”. “Ons sal moet wag vir die uitkoms van onderhandelinge tussen die stadsraad en die provinsie. Ons moet eers kyk of dié stadion nie moontlik winsgewend kan raak nie,” het hy gesê.

Bob Gabel, van Groenpunt se belastingbetalersvereniging sê hulle beskou die stadion as ‘n bate, maar is bekommerd oor die raad se planne om dit winsgewend te maak. “Ons is bekommerd dat ons ander geboue in die omgewing gaan moet oprig. Dit sal wel ‘n inkomste aan die stad bied, maar ons verset ons daarteen,” het Gabel gesê.

Die stadion in Groenpunt en vier ander stadia is gebou vir die 2010 FIFA-wêreldbeker. Die stadion het sedertdien talle groot konserte aangebied, insluitend Cold Play en U2. Kritici reken die stadion is ‘n “wit olifant”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.