Groep aangehou oor Zebediela-moord

Dertien mense is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n man wat glo twee bejaarde mense in Zebediela vermoor het.

Die groep is Dinsdag in hegtenis geneem. Hulle het Tebogo Mello (28) glo Maandag na ‘n veld toe geneem en hom van ‘n boom af gehang, het lt.kol. Ronel Otto, woordvoerder vir die polisie in Limpopo Woensdag gesê. Mello was een van die vier mans wat vrygelaat is nadat hulle in hegtenis geneem is in verband met die moord op twee pensioenarisse in die gebied. Die polisie kon die mans nie met die moord, wat in Julie plaasgevind het, verbind nie.

Maggie Raesibe Mphahlele (76) en Simon Malope (72) is op twee verskillende dae in hul huise verwurg. Hul aanvallers het met ‘n onbekende bedrag geld, selfone en ander huishoudelike items gevlug.

Volgens Otto sal die 13 mense, insluitend vier vroue, binnekort in die landdroshof in Mokopane verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.