Groep steel varke ná ongeluk

Argieffoto

ʼn Groep mense het gestorm om varke te steel nadat ʼn vragmotor wat die varke vervoer het naby Badplaas in Mpumalanga omgeslaan het.

Petro Oosthuizen, ʼn inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), het gesê die vragmotor, wat 139 varke na ʼn slagplaas vervoer het, het Dinsdagmiddag omgeslaan, het Beeld Woensdag berig.

Die bestuurder het ernstige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.

Oosthuizen en vier kollegas moes 53 van die varke uitsit wat erg beseer is, terwyl die eienaar van die varke, ʼn boer van Vryheid, in kennis gestel is van die ongeluk.

“Ons het besluit om by die varke te wag tot die eienaar opdaag,” het Oosthuizen gesê.

“Skielik het ʼn groot groep mense op die ongelukstoneel toegesak en van die varke begin vat,” het Oosthuizen geskok gesê.

Van die varke is aan hul agterpote opgetel, terwyl die ander weggesleep is.

Al die varke se karkasse en die res van die 86 lewendige varke is weggedra, terwyl die plaaslike polisie na bewering geweier het om in te tree.

“Ons het die polisie gesmeek om te help om die varke te beskerm, maar hulle het gesê hulle is magteloos teen so ʼn groot groep mense,” het Oosthuizen gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Agge nee asseblief, ons polisie is USELESS!!!!!!!!! Die arme varke :(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.