Grondgrype in Pietermaritzburg

Die leier van ʼn vermeende grondgryp was besig om gedeeltes van dié grond te verkoop en het gesê dat hy geregtig is om dit te doen, aangesien “die grond aan die Zulus behoort,” het akkerboukundige Edmund (Rusty) Roodt, wat die betrokke 82 hektaar besit, Maandag in sy dringende aansoek in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gesê.

Regter Ron McLaren het ʼn interdik teen die respondent, Philani Bha Ndlovu en enigiemand wat namens hom optree, toegestaan en bepaal dat hulle nie die eiendom mag betree alvorens die saak op 21 November afgehandel is nie.

Roodt het die titelaktes van sy grond in Winterskloof ingedien.

Roodt het gesê dat hy gesien het hoe ongeveer 20 mense op 29 Oktober erwe afmeet en penne inslaan – soortgelyk wanneer iemand grond wil afbaken.

Op Sondag 30 Oktober het hy gesien hoe ʼn stootskraper die erwe begin gelykmaak wat die vorige dag afgebaken is.

Hy het Ndlovu, ʼn sakeman, gekontak en hom versoek om soontoe te kom.

Volgens Roodt het Ndlovu gesê: “Die grond behoort aan die Zulus… die grond behoort aan die Ngonyama Trust.”

Roodt het aangedui dat hy vir Ndlovu gesê het dat die grond aan sy maatskappy, Farmers Nuco, behoort en dat niemand (ook nie Ndlovu nie) geregtig is om erwe af te baken om die grond te bewoon nie.

“Die respondent (Ndlovu) het toe geantwoord dat hy besig is om die erwe te verkoop en dat hy geregtig is om dit te doen,” het Roodt gesê.

Hy het ontken dat daar ooit enige Zulus op Winterskloof gebly het of dat hulle enige eiendom in Winterskloof besit het.

Hoofman Zondi woon sowat twee kilometer buite Farmers Nuco.

“Ndlovu en ander wat glo dat hulle bloot iemand se grond mag beset en dat hierdie grond vroeër deel was van Zondi se grond is verkeerd,” het Roodt gesê.

Ndlovu, wat homself in die hof verteenwoordig het, is deur regter McLaren aangesê om teenverklarings op 11 November in te dien en dat Roodt teen 18 November repliek moet lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.