Groot kommer oor Kalifornië se ergste droogte in 500 jaar

n Kaliforniese opgaardam wat opgedroog het. Foto: New York Times

n Kaliforniese opgaardam wat opgedroog het. Foto: New York Times

Tensy die reën gou kom, stuur Kalifornië en ander dele in die suidweste van die VSA op die ergste droogte in 500 jaar af, en ‘n noodtoestand is reeds aangekondig.

Die droogte duur al drie jaar. Die impak van die droogte is goed gedemonstreer toe bioskoopgagers in Hollywood spontaan begin hande klap het toe hulle uit die teater kom en sien dit reën. Dit was egter net ‘n los buitjie.

Kommer oor watervoorsiening aan veral Kalifornië se vinnig groeiende stede is nie nuut nie. Die owerhede oorweeg talle planne om meer water na hierdie streek te bring, wat oor die algemeen in elk geval droog is. Een van die voorstelle wat die fase van finale oorweging gehaal het, was om ‘n 1 000 kilometer lange waterpypleiding van die Missouririvier te bou wat uiteindelik ook water aan die oorbenutte Coloradorivier – wat veral bekend is omdat dit deur die Grand Canyon vloei – se water aan te vul. Dié plan is enkele jare gelede nog as laf, onprakties en onrealisties beskryf, maar veranderde omstandighede noodsaak ‘n herbesinning. Dit sou water aan sowat 40 miljoen mense in Kalifornië kon waarborg. Maar die gevaar is dat die onttrekking van soveel water die Missouri se watervlak so sal laat daal dat dit die skeepsvaart daarop kan belemmer.

Terwyl die waterowerhede met die hande in die hare sit en reguit sê hulle is baie bekommerd, is daar nog nie waterbeperkings ingestel nie. Jim Quinn, voorsitter van die Association of California Water Agencies sê sy “kommermeter” het nog nooit in sy lang loopbaan so diep in die rooi geloop nie. Die gevaar bestaan dat groot dele binnekort heeltemal sonder water kan wees.

 Grafika: Kaliforniese droogtekaart: US Drought Monitor


Grafika: Kaliforniese droogtekaart: US Drought Monitor

Onder die noodplanne is dat meer boorgate gesink word. Water sal ook met vragmotors na gebiede aangery word waar die water heeltemal opdroog.

Die goewerneur het egter mense versoek om minder gereeld te bad, en nie die kraan te laat loop terwyl hulle skeer nie.

Verskeie bronne dui egter aan dat dit veral die landbou is wat swaar trek. Landerye lê braak en in weidingsgebiede waar die gras gewoonlik dié tyd van die jaar ‘n meter hoog staan, is dit kaal haai vlakte.

Visvang en kampering is verbied omdat die situasie die staat se salmbevolking bedreig, en kampeerders reeds enorme skade met kampvuurtjies veroorsaak het wat tot reuse bosbrande gelei het.

Die gebrek aan reën het ook veroorsaak dat die lugbesoedeling in die kom waarin Los Angeles lê gevaarlike vlakke bereik het. By skole word vlae gehys om kinders te maan om van die speelterrein in te kom wanneer die besoedelingsvlakke te hoog raak.

Bronne: New York Times, ABC News, USA Today, US Drought Monitor

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.