Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye: Hier is die wenner!

GALVAT logo met bootDie liedjie wat met die titel, Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye, wegstap, is Saterdagaand regstreeks op kykNET se musiekkanaal, Jukebox, bekend gemaak.

Die liedjie Kinders van die Wind is aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Na ʼn nominasierondte en verskeie stemrondtes, waarin meer as 60 000 stemme uitgebring is, het die Afrikaanssprekende publiek besluit dat dié liedjie van die Afrikaanse liedjieskrywer Koos du Plessis die titel verdien.

Tot reg aan die einde was Kinders van die Wind en Pampoen kop aan kop, maar uiteindelik het Kinders van die Wind met die titel weggestap. Stemmery het in die laaste paar dae van die finale stemfase geweldig toegeneem.

Kinders van die Wind is ʼn liedjie wat die hartsnare roer en die voete laat tik; dit is ʼn liedjie met lirieke en ʼn wysie wat in jou kop vassteek,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Die liedjie is ʼn waardige ontvanger van dié besonderse titel.”

Laurika Rauch, wat in 1989 Kinders van die Wind as die temalied van Phoenix en Kie gesing het, het by die bekendmakingsgeleentheid vertel waarom sy reken die liedjie dié titel verdien. Karla du Plessis, Koos du Plessis se dogter en sangeres in eie reg, het by die bekendmakingsgeleentheid die wenliedjie gesing, met klavierbegeleiding deur Martin Lane.

Klik hier om meer te lees oor Kinders van die Wind.

Mediablootstelling

Die veldtog het deurlopend baie blootstelling op sosiale media geniet. Die veldtog se Facebook-blad spog met 2 500 “likes”. Daar was ook baie mediablootstelling oor die veldtog, veral deur kykNET en Virseker (die hoofborge van die veldtog). Jukebox, eNuus, Beeld en Rapport het ook seker gemaak dat lesers en kykers gereeld op hoogte bly met die nuutste verwikkelinge. Radiostasies soos Radio Pretoria, Radio Namakwaland en Groot FM het gereeld insetsels oor die veldtog uitgesaai, gesprekke gevoer oor Afrikaanse musiek en watter liedjie uiteindelik die titel verdien. Oos-Rand Stereo, Radio Kragbron, Radio Overberg, Radio Laeveld, Radio K7 (in Namibië) en Puk FM het ook mediablootstelling gegee aan die veldtog.

Kinders van die Wind-Beurs

Die Kinders van die Wind-beurs vir ligte musiek is ook dié aand bekend gestel. Dié beurs word geadministreer deur die Helpende Hand-beursfonds. Klik hier om meer te lees oor die beurs.

Kinders van die Wind-roos

Die Kinders van die Wind-roos is ook by die geleentheid bekend gestel. Dié roos, wat deur Ludwig’s Roses gekweek en geregistreer is, is ʼn roos met ʼn tydlose, klassieke vorm. Klik hier vir foto’s en om meer te lees oor die roos.

Wenner van die bootreis

Hannelie Meintjies van Proklamasieheuwel in Pretoria het uiteindelik met die groot lesersprys, ʼn vierdag-bootreis vir twee ter waarde van R15 000, weggestap.

Hannelie en haar man vaar van 4 tot 7 Februarie volgende jaar op die Jukebox-bootreis saam met verskeie Afrikaanse kunstenaars, insluitend Pieter Koen, Juanita du Plessis en Adam Tas, na die Portugese Eiland. Die paartjie se vlugte van en na Durban, vanwaar die boot vertrek, is geskenk deur AfriForum.

Hannelie sal haar prys amptelik op 2 November by die AfriForum Musiekfees in ontvangs neem. Dié gewilde jaarlikse musiekfees vind by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Dit begin om 07:00 en eindig om 13:00. Toegang is gratis en enigiemand is welkom!

Klik hier om meer te wete te kom oor die prys en die wenner.

Vennote

Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog is aangebied deur Maroela Media. Vennote in die veldtog is kykNET en Virseker (hoofborge), Radio Pretoria, Groot FM, die ATKV, Jukebox, eNuus, AfriForum en die FAK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Heidi Scrooby ·

Veels geluk Koos du Plessis en Laurika Rauch wat dit so puik vertolk en meegehelp het om dit ‘n waardige treffer te maak. Ek is soooo dankbaar en opgewonde oor die wenner. Welgedaan! Veels geluk aan al die wenners met die kompetisies en nogmaals dankie aan Maroela Media, Kyknet (JukeBox), VirSeker en al die borge vir so ‘n wonderlike kompetisie. Ek voel reeds ‘n leemte met die besef dat iets so groots tot ‘n einde gekom het. Ek wil darem net noem dat ek weekliks ook mediadekking aan die kompetisie verleen het op die program Oggendjoernaal (9-11 vm) op WhaleCoastFM http://www.whalecoastfm.co.za.

Amy ·

Moenie dink ons is flippen stupid nie. Pamoen was die HELE TYD DEUR verrrrr voor gewees.

Sune van Heerden ·

Dagsê Amy

In die laaste paar dae van stemme het daar ‘n paar duisend stemme vir elk van die voorlopers (Pampoen en Kinders) ingekom! Ons het self elke dag op hete kole gesit om te sien wat gebeur. Soms was Pampoen voor en soms was Kinders van die Wind voor. In die laaste stemfase het Kinders net-net meer stemme as Pampoen gehad, en toe ons die stemme van die vorige fases bytel om die wenner te bepaal, het Kinders van die Wind met so 450 stemme gewen. Dis net-net as mens in ag neem hoeveel stemme regdeur die veldtog ingestroom het!

Vriendelike groete

marie ras ·

ek sing al sedert 12-jarige ouderdom en reeds vanaf ongeveer 1995 sing ek hierdie pragtige liedjie vir ons ouer persone by die Raad vir Bejaardes waar ek 25 jaar reeds werk. (Ek is nou 62).
hierdie liedjie is elkeen se gunsteling en nimmereindigend – altyd immergroen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.