Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye: Kinders van die Wind

Koos du Plessis

Koos du Plessis

Lirieke en ‘n opname van die liedjie volg onderaan die berig. Die liedjie Kinders van die Wind is Saterdagaand 26 Oktober aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye.

Ná ʼn nominasierondte en verskeie stemrondtes, waarin meer as 60 000 stemme uitgebring is, het die Afrikaanssprekende publiek besluit dat dié liedjie van Koos du Plessis die titel verdien. Klik hier om meer te lees oor die veldtog en die wenliedjie.

Karla du Plessis (Koos se dogter) skryf:
Beide die woorde en die musiek van Kinders van die wind is tydloos en kan nie aan ʼn bepaalde genre gekoppel word nie. Die tema is universeel, want dit spreek die broosheid van die mens aan. Oor twintig en dertig jaar sal dit nog steeds relevant wees. Die woorde en melodie vind aanklank by oud en jonk, en al is die liedjie jare gelede al geskryf, sal dit vir baie dekades nog voortdraal in die gedagtes en harte van Afrikaanssprekendes.

Die volgende inligting is deur Tinus Esterhuizen saamgestel volgens die omslagnotas deur ‘n album wat deur EMI uitgereik is ter viering van Koos se twintigste sterwensjaar:

Koos (Jacobus Johannes) du Plessis, of Koos Doep soos hy liefdevol bekendgestaan het, is op 10 Mei 1945 in Rustenburg gebore waar sy ouers geboer het.

Kinders van die wind” is reeds in 1968 gekomponeer tydens Koos du Plessis se studentejare aan die Pretoria Onderwyskollege en dit was toe reeds uitgevoer deur sy die serenade-groep, The Gravediggers.

In 1975 neem Koos se vriend Karl Theunissen ‘n kassetopname van die lied na Nick Taylor. Hierdie stap was betekenisvol omdat ‘n hegte vriendskap ontstaan het tussen Koos, Nick Taylor en sy vrou Birthe.

Hierna volg ‘n paar televisieoptredes waartydens Koos (en soms Nick Taylor) sy musiek aan die kykers bekendgestel het. Sy groot deurbraak kom toe Katinka Heyns in die laat 70’s vir Chris Barnard die reeks “Phoenix en Kie” vervaardig. Katinka het vier van Koos se liedjies vir die reeks gebruik en “Kinders van die wind” gekies as temalied vir die program. Al die liedjies in die program is vertolk deur Laurika Rauch. Die televisiereeks was vir die vervaardigers ‘n groot deurbraak.

Kort hierna stel Laurika Rauch ‘n solus-sewe weergawe van die lied vry deur die Stanyan-platemaatskappy van David Marks. Binne die eerste week van bekendstelling moes die plaat twee keer herdruk word. Sewe weke later ontvang Laurika en Koos goue plate vir verkope van meer as 25 000.

Koos du Plessis word dus die heel eerste komponis wat ‘n goue plaat ontvang, aangesien dié soort toekenning gewoonlik net aan uitvoerende kunstenaars gemaak word. In Oktober 1979 haal Laurika se opname die solus sewe treffersparade op Springbokradio en skaars weke daarna styg die opname tot die nommer een posisie. Dieselfde opname word ook deur Radio 5 se “Best sellers” program erken en haal die boonste posisie, gebaseer op plateverkope. In 1980 stel Koos du Plessis se eerste album “Skadu’s teen die muur”, met Nick Taylor as produksieleier, bekend. Koos word dan ook bekroon met ‘n Sarie-toekenning vir “Liedjie van die jaar” vir “Kinders van die wind”. In dieselfde jaar skryf Koos die lirieke vir die kenwysie van die televisieprogram “Jopie Adam” getiteld “Wie weet”, wat hy ook self vertolk.

Talle kunstenaars het “Kinders van die wind” opgeneem waarvan die internasionale sterre Richard Clayderman, Maude Mira [in Frans gesing op die album “Afri-Frans”] en Patricio Buanne dit in Afrikaans opneem. Ook ons eie Daniele Pascal neem die liedjie op in Afrikaans, begelei deur Lisa Joubert, die persoon oor wie Koos Kombuis “Lisa se klvier’ gekomponeer het.

Selfs boeremusiekopnames verskyn deur o.a. Barry Jarman en Niek Potgieter. Ander bekende kunstenaars wat die liedjie opgeneem het, is Steve Hofmeyr, Nick Taylor, Elfreda Jordaan [harp], Martin Lane [pyporrel], Dozi, Pieter Smith, Des Lindberg, Deon van der Merwe, Manuel Escorcio, Ryan Walt [panfluit], Ronell Erasmus, Trevor Nasser, Hi-5, Johan van Rensburg se Musiekfabriek, Zamar, Theuns Jordaan, Carike Keuzenkamp, Wynand Strydom, Andriette, Die Kavalier, die fluitende predikantsvrou Ryne de Beer, Jacques Botes en die jazz meester Wessel van Rensburg. Laastens is daar ook ‘n opname deur Koos du Plessis. Engelse weergawes verskyn ook “Children of the wind”. Ander huldeblykopnames verskyn o.a. deur Jannie du Toit en EMI.

Koos is op 14 Januarie 1984 in ‘n motorongeluk op die ou Krugersdorppad in Knoppieslaagte oorlede. Sy dood word in 2014 herdenk.

“Koos du Plessis was aan ons geleen – vir ‘n kort tydjie! Maar watter wonderlike nalatenskap vir so kort tydjie!”

Kinders van die wind” is sekerlik dié liedjie wat deur die meeste Suid-Afrikaanse kunstenaars vertolk is.

Lirieke:

Kinders van die wind (soos gesing deur Laurika Rauch)
Bron: www.liriekfabriek.co.za

Ek ken ‘n ou, ou liedjie, van lewenswel en wee
Van lankvergane skepe in die kelders van die see
 
Die woorde is vergete en tog, die deuntjie draal…
Soos vaagbekende grepies in ‘n baie ou verhaal
 
Van swerwers sonder rigting, van soekers wat nooit vind
En eindelik, was almal maar net kinders van die wind
 
Gesigte, drome, name, is deur die wind verwaai.
En waarheen daardie woorde is, sou net ‘n kind kon raai.
 
Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind.
En eindelik was almal maar net kinders van die wind.

Musiek en lirieke deur Koos du Plessis – Uitgewers Incline House/Sarral

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jopie de Beer ·

Ek was vreesbevange dat “Pampoen” dit dalk kon wen en my hart is bitterlik verlig dat dit nie gebeur het nie. Dit sou ‘n ramp gewees het! Die feit dat “Kinders van die wind ” selfs die pragtige “Die Stem van Suid-Afrika” kon uitstof is uiters veelseggend. Dankie aan Koos en Maroela. Wat ‘n fantastiese monument vir ‘n reus van ‘n liedjiemens.

Somerset (Sommie) Morkel ·

Die grootste verering… Vir ‘n lied met onwaar, depressiewe woorde wat geen sin aandui nie..

Babie Jacobs ·

Baie geluk Koos Doep. Dit is regtig ‘n liedjie wat diep in elkeen se hart gekruip het. Ons wat met opgewondenheid na die volgende kompetisie. Hou moed SA want ons is kinders in die wind, in God se wind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.