Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye: Wenner van die bootreis!

Hannelie en Christo Meintjies van Pretoria wen die bootreis vir twee

Hannelie en Christo Meintjies van Pretoria wen die bootreis vir twee

Deelnemers aan die verskeie nominasie- en stemrondtes in die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog het die kans gestaan om aan die einde van die veldtog die groot prys, ‘n vierdag-bootreis vir twee ter waarde van R15 000, in te palm: dié wenner is Saterdagaand bekend gemaak.

Hannelie Meintjies (42) van Proklamasieheuwel in Pretoria is die wenner van dié wonderlike prys. Hannelie en haar man, Christo, vaar van 4 tot 7 Februarie volgende jaar op die Jukebox-bootreis op die MSC Opera saam met verskeie Afrikaanse kunstenaars, insluitend Pieter Koen, Juanita du Plessis en Adam Tas, na die Portugese Eiland. Hulle sal ook kunstenaars soos Die Campbells, Gerhard Steyn, Monique en die span van Jukebox op dié bootreis ontmoet. Die paartjie se vlugte van en na Durban, vanwaar die boot vertrek, is geskenk deur AfriForum.

Hannelie en Christo kan uitsien na ʼn bootreis vir twee, met akkommodasie in ʼn kajuit met ‘n see-uitsig en balkon. Die hawebelasting, versekering, diensfooie en alle Jukebox-vermaak, asook R4 000 sakgeld is by die prys ingesluit.

Die boot vertrek die 4de uit die Durbanse hawe, vaar tot by die Portugese Eiland aan die kus van Mosambiek waar die gaste ʼn dag vertoef, en vaar dan terug Durban toe.

Hannelie het op Maroela Media van die veldtog te hore gekom en is ʼn getroue leser van dié webwerf wat gratis Afrikaanse nuus bied. Sy het gestem in al die fases van die veldtog.

“Elkeen van die vyf liedjies het sy eie heimwee,” het Hannelie aan Maroela Media gesê oor die kategoriewenners wat uiteindelik meeging het. “Die liedjies wat my die meeste tref is Pampoen en Kinders van die wind. Tussen dié twee was dit vir my moeilik om te kies.

Kinders van die wind het uiteindelik met die titel as Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye weggestap. Klik hier om meer te lees.

Pampoen se woorde is oor die algemene lewe van mense, hulle omstandighede, gedagtes en verlange. Dis realisties en sonder leë beloftes. Dis baie spesifiek en beskrywend, ek sien alles in my gedagtes soos dit beskryf word,” het Hannelie bygevoeg. “Kinders van die Wind is ‘n hartroerende liedjie vol herinneringe van wat gister was, wat vandag is, môre ook dalk verlore gaan wees. Ons is almal kinders van die wind.”

Volgens Hannelie was sy nog nooit voorheen op ‘n bootreis nie, “Dit gaan my eerste keer wees. Ek sien baie uit na die rustigheid, klank van golwe, weg van die daaglikse gejaag. Ek wil graag die sonsopkoms en sonsondergang oor die see vasvang in my gedagtes en verewig met ons kameras. Elkeen is baie spesiaal, ‘n unieke kunswerk wat God ons gegee het om te geniet. Dit gaan ‘n wonderlike ervaring wees om dit saam met my man te deel.”

Hannelie sal haar prys amptelik op 2 November by die AfriForum Musiekfees in ontvangs neem. Dié gewilde jaarlikse musiekfees vind by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Dit begin om 07:00 en eindig om 13:00. Toegang is gratis en enigiemand is welkom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.