Grootste blou diamant in April te koop

Die seldsame bloudiamant. (Foto: Michael Loccisano/Getty images/AFP)

Die grootste blou diamant wat tot op hede gemyn is, sal in April aan die hoogste bieër verkoop word – vermoedelik teen ʼn astronomiese prys.

Dié seldsame diamant is verlede jaar by die Cullinan-myn in Suid-Afrika ontgin en sal in Hongkong opgeveil word.

Die afslaers Sotheby’s het Woensdag bevestig dat die 15,10 karaat‑ De Beers Cullinan blou diamant wel verkoop gaan word.

Die diamant sal na verwagting ʼn minimum prys van $48 miljoen (R720 miljoen) by die veiling oplewer.

“Die diamant is die grootste foutlose, trapgesnyde helderblou diamant wat nog ooit deur die Gemological Institute of America (GIA) gegradeer is,” het Sotheby’s in ʼn verklaring gesê.

“Blou diamante soos die een wat opgeveil gaan word, is uiters seldsaam, met slegs vyf voorbeelde van meer as 10 karaat wat nog ooit opgeveil is.”

Dit is egter die eerste keer wat ʼn blou diamant van meer as 15 karaat opgeveil gaan word.

Hoewel die presiese datum wat die diamant opgeveil gaan word nog vasgestel moet word, sal dit beslis tydens Hongkong se luuksegoedereweek in April gebeur. Dié reusagtige klip word intussen in New York vertoon.

Volgens Sotheby’s is die diamant uit ʼn growwe klip gesny wat verlede jaar in Cullinan, Suid-Afrika, ontdek is.

Die Cullinan-myn het reeds baie van die wêreld se bekendste diamante opgelewer, waaronder die 530 karaat Great Star of Africa wat vir ʼn tyd lank die grootste gepoleerde diamant in die wêreld was. Dit is in 1869 ontdek.

Die jongste blou diamant is egter groter as die Oppenheimer Blue – ʼn steen van 14,62 karaat wat die wêreldrekordprys vir ʼn blou diamant in Mei 2016 opgestel het toe dit vir $57,5 miljoen (meer as R860 miljoen) verkoop is.

Sotheby’s in Londen het vroeër vandeesmaand die Enigma – die grootste geslypte diamant van 555,55 karaat wat nog ooit opgeveil is – vir $4,3 miljoen (R64 miljoen) verkoop.

(Foto: Michael Loccisano/Getty images/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Ek het al dikwels gewonder waarom diamante so kosbaar is. Dit is in elk geval net ‘n stuk koolstof wat deur die aarde onder druk gevorm is. Dit laat mooi dames mooier lyk maar ander soorte kristalsteentjies kan dieselfde doen. Dit kan ook sinteties vervaardig word. Die enigste bate wat dit het – dit kan ‘n meisiekind baie liefies vir jou maak as jy aan haar so ‘n blink klippie skenk.

Cherokee ·

My vrou verjaar een van die dae en die diamant sal eers in April verkoop word, so ek sal maar iets anders koop.

Jacobus ·

Soos al gese die diamante kan nou al sinteties verraardig word. Wie se dit is die regte een?

Jaco ·

Dit is opsetlik vir April gereël want die afslaers is bewus daarvan dat ek my Desember bonus in Desember spandeer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.