Grootste oseaanbewaringsgebied verklaar

Australië het onlangs ʼn groot marine-gebied as bewaringsgebied verklaar, en sodoende ʼn presedent van oseaanbewaring vir ander lande geskep.

Die World Wildlife Fund (WWF) verwelkom dié nuwe sisteem van marine-parke wat nou oor meer as een derde van die Statebond-water van Australië sal strek. “Ons streef nou al langer as 15 jaar tot dié ideaal,” het Dermot O’Gorman, uitvoerende hoof van WWF in Australië, gesê.

Die WWF beskou die Koraalsee Marine-park as die “kersie op die koek”, en sal saam met die aangrensende Great Barrier Reef marine-park die wêreld se grootste marine-park wees.

O’Gorman sê Australië het die derde grootste oseaangebied in die wêreld. Dit strek van tropies tot sub-Antarkties en huisves onder andere walvisse, dolfyne, seeskilpaaie, haaie en indrukwekkende korale en ander ekosisteme. “Deur meer as ʼn derde van sy water as marine-park te verklaar, het Australië baanbrekerswerk in marine-bewaring gedoen wat nasionaal en internasionaal van belang is,” het O’Gorman gesê. Die WWF is egter steeds besorg oor Australië se marine-omgewings wat uitgesluit is en moontlik kwesbaar sal wees vir industriële uitbuitery. “Alhoewel hierdie ʼn groot stap is, vaar olie-tenkskepe al hoe nader aan plekke soos die merkwaardige Rowloey Shoals en Ningaloo-rif aan die weste van Australië,” het O’Gorman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.